Talentkompetisie vir almal van 5 tot 25

Open Call Industries, onder leiding van die akteur Wynand van Vollenstee en sakevrou Mariaan du Plessis, bied die Kids Talent Festival aan, ʼn unieke, professionele talentkompetisie spesifiek vir die jeug.

Die Kids Talent Festival bied aan jong opkomende talente tussen die ouderdom van 5 en 25 ʼn geleentheid om hulself aan die professionele vermaaklikheidswêreld bekend te stel en ongeëwenaarde ondervinding op te doen. Nasionale en internasionale beoordelaars wat almal aktief in die vermaaklikheidsbedryf werk, sal individuele terugvoer gee en meestersklasse aanbied en alle deelnemers sal as meer gevormde en afgeronde kunstenaars groei.

Kategorieë sluit in drama, sang, dans & instrumentaal (ligte musiek & klassiek), elk met verskeie genres per afdeling. Deelnemers kan aan meer as een afdeling deelneem en dus hul talent op verskeie platforms ten toon stel.

Beoordelaars sluit in Lizz Meiring, Jannie du Toit, Ignatius van Heerden, Mario Nell en die wêreldbekroonde konsertpianis Congyu Wang van Singapoer. Meestersklasse word deur hierdie beoordelaars aan elke kategoriewenner toegeken.

Deelnemers sal nie net ondervinding in die professionele milieu ervaar nie, want verskeie spesiale toekennings sowel as pryse ter waarde van R350 000 is ook op die spel. Let wel dat hierdie nie net ʼn gewone talentkompetisie vir vermaak is nie, maar ʼn fantastiese platform vir jong kunstenaars met hul oog op ʼn professionele uitvoerende loopbaan.

Inskrywings en verdere inligting is beskikbaar by die webtuiste www.kidstalentfestival.co.za. Inskrywings sluit op 20 Junie 2019.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.