Aardklop: Hoe hanteer ʼn egpaar hul kind se selfmoord?

Brendon Daniels speel die rol van Bernard in ‘Opdrifsel’ en teenoor hom is Tinarie van Wyk Loots in die rol van Mara. (Foto: Verskaf)

Hoe verwerk ʼn egpaar die verlies wanneer hulle enigste kind sy eie lewe neem? Wanneer is dit die regte tyd om die kamer op te pak of klere te skenk en is daar ʼn “regte” tyd om aan te beweeg? Ses maande, ʼn jaar of drie?

In Opdrifsel word ʼn egpaar se lewens uitmekaar geskeur wanneer hul enigste kind sterf. Tinarie van Wyk Loots speel die rol van Mara en teenoor haar is Brendon Daniels in die rol van Bernard.

Eens rotsvas, dobber hulle nou in onbekende waters en probeer die stukke van hul lewens bymekaarsit.

Vir dié egpaar is daar baie vrae, maar geen antwoorde nie. Hulle praat in sirkels by mekaar verby; elkeen in sy eie maalkolk van emosies en ʼn worsteling om die verlies te verwerk.

Daar is ʼn eerste Kersfees, ʼn eerste verjaarsdag en vriende wat nie weet wat om te sê nie. Daar is selfverwyt, woede en beskuldigings. Kan hulle huwelik dié storm oorleef? Sal Mara en Bernard ʼn middeweg kan vind om saam heel aan die anderkant uit te kom?

Terwyl Mara al hoe dieper wegsink in die donker van haar eie gemoed, haarself toesluit in Dylan se kamer en steeds briewe aan haar oorlede seun skryf, werk Bernard harder en hy draf meer in ʼn poging om beter te voel.

Opdrifsel is ʼn verhaal oor twee mense wat hulself én mekaar in die donker gat van rou verloor, en weer moet vind. Dit is ʼn storie oor hartseer, verlies, maar veral hoop en herbou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.