Aardklop: Minnaar lewer kragtoer in ‘Monsieur Ibrahim’

Dawid Minnaar neem jou op ʼn reis deur ʼn spektrum van emosies in hierdie solovertoning. (Foto: Gerhard Pretorius/Voortrekkermonument)

In ʼn tyd waarin ons soms voel ons het dalk iets van ons menslikheid verloor, is die solostuk Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran oor vriendskap net die verhaal om ons te herinner dat die mooi van die lewe soms op die onwaarskynlikste plekke gevind kan word.

Dawid Minnaar neem jou op ʼn reis deur ʼn spektrum van emosies in hierdie solovertoning, wat net soos die verhoog, besaai is met blomme van wyshede oor die lewe en dood.

Dié sjarmante stuk is vandeesweek op die Aardklop-opwipfees in die Jakarandastad op die planke.

Die verhaal ontwikkel uit die onwaarskynlike vriendskap tussen ʼn Joodse seun Moses (of Momo) en ʼn eensame Moslem-winkeleienaar, Ibrahim. Minnaar vertolk verskillende karakters, maar vertel die storie hoofsaaklik uit Momo se oogpunt.

Met slegs ʼn stoel, ʼn baadjie en papierblomme op die verhoog neem Minnaar jou saam na die Rue Bleue-distrik in Parys in die sestigerjare. Dit is hier waar die gekwelde Momo, wat aan sy eie genade oorgelaat is, ʼn ware vriend, mentor en vader in Ibrahim, ʼn Soefi-Moslem, vind.

Die stuk is geskoei op Eric-Emmanuel Schmitt se Franse novelle Monseiur Ibrahim et les fleurs du Coran wat deur Naòmi Morgan in Afrikaans vertaal is.

Volgens Minnaar gaan die verhaal oor ʼn vriendskap wat bo alledaagse beperkinge van geloof- en generasiegrense uitstyg.

In die vertelling word daar gekyk na universele waardes soos vriendskap, aanvaarding, familie, liefde, vervreemding en selfs trauma wat oor generasies kom en hom om dit te oorkom.

Minnaar vertel self meer oor dié produksie op die eerste Aardklop-opwipfees. Kyk hier na die video.

  • Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran is Vrydag om 18:00 en Saterdag om 10:00 by die Voortrekkermonument in die Kruger-galery te sien. Kaartjies kos R180. Bespreek by ticketpros.co.za of besoek Aardklop se webwerf vir meer inligting oor vanjaar se produksies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.