Fiësta-benoemings bekend

Ondanks die druk waaronder die uitvoerende kunste gebuk gaan weens die Covid-19-pandemie, gaan die kykNET Fiësta-toekennings vanjaar voort om uitsonderlike prestasies wat in die voorafgaande jaar op kunstefeeste te sien was te vereer.

Karen Meiring, M-Net-direkteur van kykNET-kanale, sê die doel met vanjaar se Fiësta-pryse is om aan feeste, kunstenaars en feesgangers hoop te gee.

“Dit is belangrik om erkenning te gee vir die manjifieke werk wat op innoverende maniere steeds op verhoë en aanlyn aangebied is.”

Die deelnemende feeste, naamlik die Toyota US Woordfees, die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), die Suidoosterfees, Innibos, die Vrystaatfees en die Aardklop Nasionale Kunstefees, het verlede jaar kreatiewe maniere en formate gevind om steeds die kunste na gehore te bring.

Die Toyota US Woordfees het plaasgevind voor die nasionale inperking wat op 26 Maart verlede jaar aangekondig is, met meer as 300 (leefstyl- en diskoersgesprekke uitgesluit) produksies. Altesaam 87 hiervan was debuutproduksies.

Hoewel die ander feeste nie op die tradisionele manier kon plaasvind nie, is die geleentheid aangegryp om gehore op ʼn nuwe manier te bereik. Die KKNK het sy eerste kortfliekprojek, Kortom, van stapel gestuur.

Dié fees het ook die Teksmark en Virtuele Galery aangebied, terwyl Aardklop die eerste Aardklop Aubade-konsert, in samewerking met die Afrikaanse Hoër Seunskool, aangebied het.

Met die Suidoosterfees se inryteater het gehore die geleentheid gekry om in die gemak en veiligheid van hul motors na feesaanbiedings op die silwerskerm te kyk. Die Vrystaatfees het ook innoverende aanlyn projekte en gesprekke aangebied.

Daar is vanjaar geskaaf aan sommige kategorieë en nuwes is bygevoeg om met die veranderende landskap van die uitvoerende kunste tred te hou. Die Fiëstas-paneel het besluit om ʼn nuwe kategorie naamlik beste aanlyn feesprojek te skep. Dié kategorie vereer alle projekte wat feeste aangepak het om die kunste te laat voortleef tydens die inperking.

Sandra Prinsloo het verlede jaar die toekenning vir beste spel in ‘n solo-vertoning gewen vir haar rol as Susan Nell in ‘Kamphoer’. Sy is vanjaar benoem vir haar rol in ‘Spertyd’. (Foto: Christa Steyn Bezuidenhout/Maroela Media)

“Vir die paneel gaan dit nie daaroor dat die Fiëstas noodwendig móét plaasvind nie, maar dat die kunstenaars wat erkenning verdien en bekroon móét word,” meen Herman van der Westhuizen, sameroeper van die Fiëstas-paneel.

“In ʼn jaar waarin kunstenaars en diegene agter die skerms onder moeilike omstandighede skeppend moes wees, was die paneel veral beïndruk deur die kreatiwiteit en nuwe idees wat na vore gekom het. Ons salueer die feesbesture en almal betrokke.”

Die kykNET Fiësta-toekenningsgeleentheid sal vanjaar weens die Covid-19-regulasies slegs op televisie uitgesaai word en nie voor ’n teatergehoor aangebied word nie. Die uitsending is op 7 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Talle van die Fiësta-benoemdes en kunstenaars soos Corlea Botha, Lynelle Kenned, Devonecia Swartz en Elandré sal deel vorm van die uitsending, onder regie van Hennie van Greunen en Pedro Kruger.

Hier is die benoemings:

Beste akteur

Ben Pienaar – Match (Vrystaatfees)

Dean Balie – Die poet, wie’s hy? (Toyota US Woordfees)

Robert Hindley – Valsrivier (Toyota US Woordfees)

Stian Bam – Valsrivier (Toyota US Woordfees)

Beste aktrise

Anna-Mart van der Merwe – Valsrivier (Toyota US Woordfees)

Melanie Scholtz – Extra large, asseblief? (Toyota US Woordfees)

Nicole Holm – Tweespoor (Toyota US Woordfees)

Sandra Prinsloo – Spertyd (Aardklop)

Beste regie

Frieda van den Heever – Die poet, wie’s hy? (Toyota US Woordfees)

Janice Honeyman – Valsrivier (Toyota US Woordfees)

Marthinus Basson – Huppelkind (Toyota US Woordfees)

Nico Scheepers – Die engel by die dam (Toyota US Woordfees)

Beste teaterontwerp

Charl-Johan Lingenfelder – musiekregie vir Die poet, wie’s hy? (Toyota US Woordfees)

Chen Nakar – stelontwerp vir Die vermoeienis van vlerke (Toyota US Woordfees)

Elana-Mari Snyman – stelontwerp vir Die sonkamer (Toyota US Woordfees)

Nico Scheepers – stel- en beligtingsontwerp, choreografie en manipulasie van die marionet vir Die engel by die dam (Toyota US Woordfees)

Beste nuutgeskepte Afrikaans teks, verwerking of vertaling

André Gerber – Die sonkamer (Toyota US Woordfees)

Frieda van den Heever en Dean Balie – Die poet, wie’s hy? (Toyota US Woordfees)

Saartjie Botha – Valsrivier (Toyota US Woordfees)

Veronique Jephtas – Hoe change hulle (Toyota US Woordfees)

Beste prestasie in klassieke musiek

Bryan Wallick (klavier), Frank Stadler (viool) en Peter Martens (tjello) – Beethoven se Tripelkonsert (KKNK)

Hidden Colours of the Free State (Vrystaatfees)

KSO – Mozart Wind Octets (KKNK)

Universiteitskoor Stellenbosch onder leiding van André van der Merwe – Etensuurkonserte en Gala-konsert (Toyota US Woordfees)

Beste prestasie in visuele kuns

Barbara Wildenboer – KKNK-feeskunstenaar (KKNK)

Carol Brown, Zinhle Khumalo, Angela de Jesus (kurators) – Folds & Faults: An Exhibition of Women Artists (Vrystaatfees)

Dineke van der Walt (kurator) – KKNK se Virtuele-galery (KKNK)

John Anthony Boerma (kurator) – Innibos Nasionale Handwerkkunskompetisie (Innibos)

Beste musiekgedrewe produksie: buitelug en podium

Early B – Toyota US Woordfees

Karen Zoid: 20 Jaar Pops – Toyota US Woordfees

Klopse jol – Suidoosterfees

The Variety Show that Skriks vir Niks – Suidoosterfees

Beste musiekgedrewe produksie: teater

’n Lieflike lawaai – Toyota US Woordfees

Die poet, wie’s hy? – Toyota US Woordfees

Karoo Suite 2: Karoonagte – Toyota US Woordfees

Van Broadway na Birdstraat – Toyota US Woordfees

Beste aanlyn feesprojek

Die dans van my heenkoms – Vrystaatfees

Beethoven se Tripelkonsert – KKNK

#TsekCorona, Hot Gates, A Child in a Faraway Land, Die weduwee se kruik, The World in Union – Suidoosterfees

Virtuele kunsgalery – KKNK

Beste feesproduksie

Beethoven se Tripelkonsert – KKNK

Die dans van my heenkoms – Vrystaatfees

Die poet, wie’s hy? – Toyota US Woordfees

Valsrivier – Toyota US Woordfees

Beste opkomende kunstenaar

Lynette du Plessis – Krummelpap, afval en Sunlightseepbaddens (Toyota US Woordfees)

René Cloete – Huppelkind (Toyota US Woordfees)

Robert Hindley – Valsrivier (Toyota US Woordfees)

Wian Taljaard – Wag, wat?, Kraai, Lycra en petticoats (Toyota US Woordfees)

Soos gewoonlik word drie legendes met lewensbydraetoekennings vereer. Daar word vanjaar ook vir die eerste keer ʼn nuwe kategorie bygevoeg, Die Fiësta Sinjatuur, waarin drie kunstenaars vereer sal word.

Die Blou Fiësta, ’n prys vir ’n uitsonderlike en verdienstelike werk wat nie in een van die ander kategorieë val nie, word ook weer toegeken. Hierdie toekennings word die aand van die toekenning bekend gemaak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.