Luister: Germandt, Je-Ani se humor in dié teaterstuk weerspieël

Je-Ani Swiegelaar speel die rol van René Niewoudt in die teaterproduksie ‘Die vrou op die dak’. (Foto: Verskaf)

Die vrou op die dak, ʼn splinternuwe teaterproduksie deur die akteursvriende Germandt Geldenhuys en Je-Ani Swiegelaar, is volgende week by die Momentum Beleggings Aardklop op Potchefstroom op die planke.

Die stuk vertel die verhaal van René Niewoudt wat op die punt is om alles te verloor. In ʼn oomblik van impulsiewe waansin besluit sy om bo-op die dak van haar huis te klim – die einste huis waar sy haar hele getroude lewe al bly, waar sy en haar man nesgeskop het, en waar hulle hul kinders grootgemaak het.

Terwyl sy op die dak sit, besin René oor haar lewe, liefde, huwelik, kinder, en die redes vir haar bestaan. Van bo af lyk die lewe skielik anders, en dit laat haar wonder hoe ʼn nuwe uitsig haar uitkyk op die lewe gaan verander.

Je-Ani sê dat sy nogal met die sentimentele aspek van die storie en haar karakter se koppigheid identifiseer.

“Ten opsigte van sentiment is ek en René baie dieselfde. As ek byvoorbeeld na my eie huis kyk verstaan ek René se behoefte om aan haar huis te wil vashou. Sy is werklik lief vir haar huis. Dit is nie net vier mure nie, dit is haar veilige plek waar sy herinneringe gebou het.

“Nog ʼn eienskap van René waarmee ek identifiseer, is haar hardkoppigheid. Ek is presies dieselfde. As ek my kop op iets gesit het, gaan ek dit deurvoer en ek dink dit is wat René hier besig is om te doen. Sy probeer haar vrou staan teen die goed wat tans by haar huis aan die gang is.”

Germandt en Je-Ani het teaterliefhebbers in 2019 laat skater met hul komedie keelVOL, wat daardie jaar by Aardklop gedebuteer het.

In hierdie produksie was albei akteurs op die verhoog, anders as met Die vrou op die dak waar hulle nou ander rolle het. Germandt sê dit verander eintlik nie veel in hulle ervaring om saam te werk nie.

Germandt Geldenhuys. (Foto: verskaf)

“Dit is nog steeds definitief ʼn samewerkingspoging. Je-Ani het ook ruimte om insette te lewer en voorstelle te maak en ek laat haar toe om op haar eie die karakter te vind. Ek dink dit gaan op die einde van die dag oor vertroue.”

Je-Ani voeg by dat hulle die proses vooraf mooi deurdink het. “Die dinamiek het effens verander omdat Germandt nou my regisseur is en nie saam op die verhoog verskyn nie. Ek en hy het darem voor die tyd oor die verandering in rolle gesels, maar gelukkig ken en verstaan ons mekaar goed.”

Hoewel Die vrou op die dak hier en daar ʼn bietjie ernstiger is, sê Germandt dat hy en Je-Ani wel altyd ʼn bietjie humor by hul stories inwerk en vir gehore ʼn goeie dosis teater wil gee.

“Ek en Je-Ani is daardie tipe mense wat in ons eie lewens selfs in die hartseerste, moeilikste tye probeer om die humor van die situasie raak te sien. Dit weerspieël ook in die skryfwerk en toneelspel van hierdie stuk.

“Ons wil graag vir teaterliefhebbers iets van alles gee. Hopelik kan hulle in die vertoning lag, ʼn traan pink en na die tyd iets hê om oor te dink.”

Die vrou op die dak is te sien by Gimmies op:

  • 4 Oktober om 09:30
  • 6 Oktober om 09:30
  • 7 Oktober om 16:30 en 20:00

Kaartjies is by Ticketpros beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.