Skryf ’n verhoogteks vir KKNK

Argieffoto (Foto: Amantha Weisburg/Unsplash)

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) nooi alle gevestigde en opkomende skrywers om nou hulle idees en tekste in te skryf vir die sewende Teksmark wat van 22 tot 27 Augustus by die Baxterteater in Kaapstad plaasvind.

Teksmark, ʼn projek van die KKNK, word in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) en die Baxterteater aangebied, waar idees en tekste met belangstellendes in die bedryf gedeel word met die oog op moontlike verdere ontwikkeling.

“Goeie teater begin by ʼn goeie teks, en ʼn goeie teks begin by ʼn goeie idee wat aanklank vind by die tye,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees.

Theart verduidelik dat skrywers met dié inisiatief hulle idees voorlê en daarna begin die skryfproses eers. Die projek het reeds talle voltooide tekste opgelewer, en dan is daar tekste wat oor ʼn langer termyn ontwikkel word.

“Ek is opgewonde om te sien waarmee skrywers hierdie jaar vorendag kom. Ons skrywers is toonaangewend in die tye waarin ons leef.”

Talle tekste wat sedert die ontstaan van dié projek by Teksmark voorgelê is, het reeds pryse en nominasies ontvang.

“Tien Teksmark-tekste is tot volwaardige produksies ontwikkel, sommige is gepubliseer en die jongste suksesverhale uit dié projek is Karatara en Agulhasvlakte, wat in 2019 voorgelê is en vanjaar by die KKNK gedebuteer het. Karatara is met die Kanna-prys vir beste debuutwerk bekroon,” sê Theart.

ʼn Uittreksel van Die halwe huis, wat ook aan Teksmark voorgelê is, is tydens die Oudtshoorn Teksmark in 2021 aangebied, waarna dit verder ontwikkel is en by vanjaar se KKNK gedebuteer het.

Teks-idees word in alle genres oorweeg, maar komedie, satiriese tekste en tekste gemik op kinders en jong volwassenes word veral aangemoedig. Só ook word voorstelle in alle amptelike Suid-Afrikaanse tale, veral veeltalige produksies, voorop gestel. Slegs tekste deur Suid-Afrikaanse burgers wat nog nooit voorheen professioneel opgevoer is nie, word oorweeg.

Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, sê dat Teksmark die laaste twee jaar ʼn soort troos vir die bedryf geword het in ʼn droewige tyd waar bykans geen regstreekse teater toegelaat is nie.

“Nou dat ons weet ons kan weer teater maak, het ons skrywers en tekste met nuwe, vars idees en benaderings nodig. Die wêreld het oor die laaste twee jaar so baie verander.

“Skrywers moet ons help om sin hiervan te maak en ons te herinner dat die teater en die verhoog dié plek is waar daar met idees gespeel en geëksperimenteer kan word. Daarom wil ons skrywers uitdaag om die geleentheid aan te gryp, ons te kom verras, vermaak en bowenal te laat dink, soos dit goeie teater betaam,” sê sy.

Volgens Lara Foot, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die Baxterteater, is die kunste en storievertellings se doel steeds om gemeenskappe deur uitdagende tye soos ʼn wêreldpandemie te dra. Dit is nou veral nodig om hierdie taak met veerkragtigheid en relevantheid aan te pak.

Foot wys ook daarop dat die Teksmark-inisiatief belyn is met die Baxterteater se doelwit om aspirantkunstenaars op te lei.

“Die slyp van jong kunstenaars, skrywers en teatermakers sal altyd ʼn fundamentele deel uitmaak van wat ons by die Baxter doen en daarom is hierdie samewerking so deurslaggewend.”

’n Volledige lys met riglyne vir voorstelle is op die KKNK se webwerf beskikbaar, waar voorstelle ook met ʼn maklike elektroniese vorm ingedien kan word. Die sluitingsdatum vir voorstelle is Maandag 27 Junie om middernag. Vir navrae kontak Lizané Basson by 044 203 8600, of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.