Steun ons kultuurreuse ter wille van eie oorlewing

Foto: pixabay.com

Deur Marisa Engelbrecht

Kultuur en kulturele groei is iets waaraan ons nie eerste dink in ʼn krisistyd soos dié wat ons nou beleef nie. Inteendeel – kaartjies vir teatervertonings en CD-aankope is waarskynlik van die eerste items wat uit ons begroting gesny gaan word as die Covid-19-pandemie verby is.

Tog is mense in die kultuurbedryf die reuse wat as skadu’s van beskutting vir ons in hierdie krisis moet optree, en ons ná die krisis moet ophelp. Ons kan verwag dat sangers musiek gaan skryf wat die storie van die krisis gaan vertel en uitdrukking aan ons gevoelens daaroor gaan gee; dat dramaturge en akteurs die drama wat hom afgespeel het op die verhoog en in rolprente gaan vasvang; dat beeldhouers, skilders en ander kunstenaars die verhaal van dié stukkie geskiedenis in kuns gaan verewig. Kortom – hulle is die mense wat ons gaan help om emosioneel weer op die been te kom, deur ʼn stem en ʼn gesig te gee aan dít wat ons ervaar, verloor en geleer het.

mikrofoon_pixabay.jpgGelukkig is daar maniere waarop jy die Afrikaanse kultuurgemeenskap kan ondersteun. Hier is ʼn paar wenke:

  • Koop ’n CD, USB, MP3 of enige ander voorkeur formaat op jou gunsteling kunstenaar, komediant of akteur se webblad. Sommige kunstenaars het ook ander items te koop op hul webblaaie soos T-hemde, pette, koffiebekers ensovoorts. Dit voel vir jou moontlik soos ’n klein uitgawe, maar baie bietjies gaan vir die kunstenaar ’n verskil maak aan die einde van die maand. Jy gaan waarskynlik jou fisieke produk eers ná die inperking ontvang, maar intussen kry die kunstenaar kontant in die bank en kos in die kas.
  • Kies plaaslik eerste. Alvorens jy op die musiek van oorsese kunstenaars fokus, kies om eers ons plaaslike talent te ondersteun. Dis belangrik om nou eerder jou geld op plaaslike kunstenaars te bestee as oorsese kunstenaars.
  • Deel skakels na jou gunsteling- plaaslike kunstenaar se liedjies, musiekvideo’s of optredes op jou sosialemediaplatforms. Om dit meer spesiaal te maak, sê vir jou volgelinge hoekom jy van die liedjie of uitsending hou.
  • ballet_danser_pixabay.jpgVoeg plaaslike liedjies op jou speellys.
  • Stuur ’n boodskap van bemoediging aan plaaslike kunstenaars. Dit gaan vir hom of haar meer beteken as wat jy besef.
  • Luister na jou gunsteling kunstenaar se elektroniese uitsendings op betaalde regstreekse uitsending- (“live-stream”) platforms. Deel ook die skakels met ander mense.
  • Baie kunstenaars reël nou konserte wat jy aanlyn kan stroom. Ondersteun dit deur kaartjies te koop!
  • Sodra die inperking verby is, ondersteun sover moontlik ons plaaslike kunstenaars se inisiatiewe, toere en optrede. Dit voer ons passie vir opstaan, aangaan en opbou.
  • Indien jy finansieel ’n addisionele bydrae wil maak tot kunstenaars wat werklik in nood verkeer, ondersteun betroubare organisasies soos die Teaterbystandsfonds wat bejaarde en siek kunstenaars ondersteun. Hulle het ’n uiterse positiewe impak op die ondersteuning van kunstenaars in die plaaslike kunsbedryf en bestaan reeds sedert 1962. As gevolg van die impak van Covid-19 op die plaaslike bedryf (wat meer as 2 miljoen mense in die bedryf raak), het die fonds besluit om in samewerking met SAGA en die PMA ’n kosprojek vir kunstenaars te loods. Vir meer inligting besoek TBFSA en om ’n skenking te maak. Betaal gerus jou donasie in by Absa, rek. no. 9305 193 377 met verwysing Covid-19.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.