Video: ‘Die Gelofte’ reg vir ʼn derde speelvak

‘Die Gelofte’ is weer op die planke. (Foto: AfriForum Teater/Facebook)

Die treffermusiekspel Die Gelofte het onlangs na die planke van die AfriForum Teater in Pretoria teruggekeer en het boonop Sondag 11 September sy 50ste suksesvolle vertoning gevier.

Die groep talentvolle akteurs wat in hul Voortrekkerpakkies en bypassende vellies op die verhoog te siene is, het dié yslike mylpaal behoorlik met kolwyntjies en heerlike vonkelwyn gevier.

“Ons is nie daarop uit om net ’n vertoning aan mense te gee nie. Ons bied ’n ervaring. Sou jy in die bevoorregte posisie wees om deel van die gehoor te wees, sal jy jouself binne-in die laer van hierdie Voortrekkers bevind,” het Jannes Erasmus, die skrywer en regisseur van Die Gelofte vroeër aan Maroela Media vertel.

Sedert die musiekspel in Mei vanjaar sy buiging gemaak het, het dit van krag tot krag gegaan.

Die trefferliedjies, geskryf deur Inhoud Huis Musiek se Johan Vorster en Jacomien de Wet, wat albei boonop in die musiekspel is, het huishoudelik bekend geword.

Maroela Media het tydens ’n oefening by die groep akteurs ingeloer om die opgewondenheid oor ’n derde speelvak vas te vang.

“Dit voel amper vir my soos ’n Kersfeesgeskenk. Ons het almal gedink die eerste speelvak was wonderlik, maar ons het nie verwag dat daar soveel navrae sou wees en dat ons weer die geleentheid sou kry om hierdie storie te vertel nie,” het Nadia Beukes, een van die aktrises wat in die musiekspel te siene is, gesê.

Of jy Die Gelofte tydens die eerste of tweede speelvak gesien het en of jy dit graag vir die eerste keer wil sien, Beukes beveel dit sterk aan om tog jou stel kaartjies aan te skaf.

“As jy dit vir die eerste keer kom kyk, gaan dit jou wegblaas, maar dis soos daardie rolprente wat jy oor en oor kyk en elke keer iets nuuts ontdek. Hierdie is jou kans, koop jou kaartjies en kom kyk Die Gelofte.”

  • Indien jy graag ’n groepbespreking wil maak, kan jy in aanmerking vir afslag kom. Stuur ʼn e-pos na [email protected] of skakel 066 420 1618 om meer uit te vind.
  • Die Gelofte is op die planke van 3 tot 25 September en kaartjies daarvoor kan hier aangeskaf word.
  • Klik hier, volg die stappe en skryf in om in aanmerking vir ʼn stel dubbelkaartjies vir Die Gelofte te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.