11de Fiëstas beloof glansryke inspirasie

Die Fiëstas van 2021 vereer die werk in die uitvoerende kunste wat te midde van die pandemie plaasgevind het. (Foto: Nardus Engelbrecht)

Wat doen die muse as hy by ʼn fees aankom en daar gaan niks aan nie?

“Wel, hy begin met ʼn noot op die ou klavier wat eenkant staan. As hy eers twee koorde bymekaar inprop, gaan daar doer êrens ʼn verhooglig aan,” sê Hennie van Greunen, die regisseur van vanjaar se Fiësta-toekenningsgeleentheid. Voor ʼn mens dit besef, is daar ʼn produksie al is dit voor ʼn kamera en word dit aanlyn uitgesaai.

Dit is vanjaar die 11de keer dat die Fiësta-pryse uitgedeel word en hoewel dit anders as gewoonlik gedoen word, beloof dit om steeds glansryk en inspirerend te wees.

“Al het die Covid-19-pandemie verskriklike uitdagings en indringende beperkings op die uitvoerende kunste gehad, het kreatiwiteit steeds geseëvier en gehore het wel bymekaargekom om die kunste te geniet, al was dit dikwels aanlyn.

“Vanjaar se Fiëstas vind juis plaas om dié werk te vereer.”

Skakel dus Sondag 7 Maart om 20:00 in vir die 11de kykNET Fiëstas op kykNET. (Foto: Nardus Engelbrecht)

Corlea Botha is ook deel van vanjaar se Fiëstas-produksie. (Foto: Nardus Engelbrecht)

Groot name in die vermaakbedryf is vanjaar deel van die produksie: Joshua na die reën, Antoinette Kellerman, De Klerk Oelofse, Corlea Botha, Elandré, Jemma Kahn, Anna Davel, Richard September en Charlton George, asook opkomende sterre soos die danser DfeatSA, die sanger Kyle Seconna, die aktrise en sangeres Devonecia Swartz en die jong stemme van Phoebe Maxaji, Mia Dippenaar en Wanda Jacobs.

Soos gewoonlik gaan daar ook drie legendes vereer word met lewensbydrae-toekennings. Dié toekennings gaan vanjaar aan die veelsydige akteur, filmmaker en radioman Nic de Jager, die sanger en akteur Terry Fortune en die legendariese fotograaf Bob Martin.

Benewens pryse in 12 kategorieë wat toneel, musiek, kuns en dans insluit, is daar ook vanjaar vir die eerste keer drie Sinjatuur-toekennings op die spel.

Dié pryse gaan aan kunstenaars wat tot nou toe uitsonderlik in hulle loopbane presteer het. Soos met die Blou Fiësta, die toekenning wat gaan aan ʼn uitsonderlike prestasie op die feesteprogram, word die wenners van die Sinjatuur-pryse eers die aand van die uitsending bekend gemaak.

  • Skakel dus Sondag 7 Maart om 20:00 in vir die 11de kykNET Fiëstas op kykNET (DStv-kanaal 144) en vier saam met ons die kunstenaars se wonderlike kreatiwiteit en talent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Phillip ·

Anna Mart is maar my gunsteling aktriese van son kring om een te noen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.