15 feite oor ‘Boer soek ʼn vrou’

Marciel Hopkins. (Foto: Sulet Fourie)

Boer soek ’n vrou is een van die gewildste werklikheidsreekse in Suid-Afrika, en ook een wat die langste op die kassie is.

Sedert 2008 volg kykNET-kykers getrou die lief en leed van Suid-Afrikaanse boere wat na liefde hunker, en die reeks het met groot sukses daarin geslaag om talle mense se geloof in ware liefde te herbevestig.

Hier is 15 interessante feite oor Boer soek ’n vrou

  1. Die eerste episode van Boer soek ʼn vrou is op 30 September 2008 op kykNET uitgesaai. Kykers het egter ʼn paar maande tevore, op 14 Julie, vir die eerste keer met die reeks kennis gemaak toe ʼn loodsepisode van die tien boere wat liefde soek, vertoon is.
  2. Altesaam 150 hubare boere op soek na liefde en hul lewensmaats het sedert 2008 op die kassie verskyn.
  3. Boer soek ’n vrou is op ’n internasionale formaat geskoei en word in tientalle lande vervaardig. Dit is die eerste keer 2001 in Brittanje as Farmer Wants a Wife uitgesaai.
  4. In Suid-Afrika is die vervaardigers bewus van ten minste 25 suksesverhale van boere wat as gevolg van hul deelname aan die reeks die pad na die kansel gestap het. Dit maak die plaaslike weergawe van dié maatsoekreeks een van die suksesvolstes ter wêreld. Dit is teenoor Australië se Farmer Wants a Wife wat teen 2022 oor 12 seisoene slegs nege huwelike opgelewer het.
  5. Boer Joachim, wat in die eerste seisoen verskyn het, het tot dusver nog die meeste briewe ooit gekry.
  6. Talle vroueboere het oor die jare ingeskryf, maar dit sou eers in 2018 gebeur het toe boer Toanette die eerste vrou was wat genoeg briewe ontvang het om onder die topvyf boere (wie se liefdespaadjies in die reeks gevolg word) te wees.
  7. Die eerste openlike gay boer, Damian, het in 2019 vir die 12 reeks ingeskryf. Hy het boonop in daardie seisoen ook die meeste briewe ontvang.
  8. Ses aanbieders het die afgelope 15 jaar die land deurkruis om boere in hul soeke na liefde by te staan. Hulle was Elma Postma (2008-2010), Angelique Gerber (2011-2013), Nadia Beukes (2014-2015), Minki van der Westhuizen (2016-2017), Leah (2018-2019) en Marciel Hopkins (vanaf 2020 tot op hede).
  9. Boer soek ’n vrou-aanbieders trek gemiddeld 50 verskillende uitrustings aan tydens die verloop van die produksie.
  10. Ter viering van die reeks se tiende seisoen in 2017 het die musikant Schalk Joubert die bekende temalied met ʼn vars weergawe opgekikker.
  11. In 2020 het die Covid-19-pandemie ook ʼn impak op die reeks gehad en is produksie tydelik tot ’n halt geroep. In die verlede is Boer soek ’n vrou meestal van Oktober tot Januarie uitgesaai, maar weens die vertraging in produksie is die 13de seisoen eers van Januarie 2021 uitgesaai.
  12. Ook as gevolg van die pandemie, en anders as tevore waar die boere briewe en pakkies in persoon ontvang het, kon voornemende pasmaats in seisoen 13 net in digitale formaat hulself aan die boere bekendstel.
  13. Die provinsie wat oor die jare die meeste boere vir die reeks opgelewer het, is die Wes-Kaap, wat gevolg word deur die Vrystaat en Noord-Kaap.
  14. Pasmaats doen gewoonlik baie moeite om die boere se aandag met hul pakkies en briewe te trek. Maar vreemde geskenke het al hul opwagting gemaak, waaronder boeie met pienk vere en onderklere met die voornemende pasmaat se gesig daarop.
  15. Oor 15 jaar is daar in totaal sowat 600 000 km deur die vervaardigingspan afgelê soos hulle die land deurkruis het om boere te help liefde vind het. Dit is byna maan toe en terug. Die maan is sowat 384 400 km van die aarde.

Boer soek ’n vrou begin op Donderdag 19 Januarie 2023 om 20:00 op kykNET, kanaal 144 op DStv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Ek het al na van dié reeks se episodes gekyk: deel van die reeks is dat elke boer wys hoe lyk sy plaas, waarmee boer hy en waarmee is hy besig elke dag. Dis mos nou ‘n ope uitnodiging wat skree: onteien my eendag sonder vergoeding. Dieselfde met TV reekse soos Grootplaas en Megaboere. Moenie dink daars geen Afrikaanssprekendes in die ANC, EFF en BLF nie. Hulle kyk ook TV en baie van hulle het ook DSTV. Vincent Smith, ANC-parlementslid e voor in die koor oor onteiening sonder vergoeding, praat vlot Afrikaans. Wanneer gaan Kyknet en ons mense leer om hulself nie so bloot te stel nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.