Afrikaanse ‘Real Housewives’ eersdaags op kykNET

Aanhangers van die Real Housewives-werklikheidsreekse kan solank nader skuif vir Die Real Housewives van Pretoria wat eersdaags op die kassie sal wees.

Ses vroue van Pretoria sal in Oktober hul mooiste en duurste paar spykerhakskoene afstof om kykers te vermaak.

Luukse voertuie, manjifieke herehuise, ontwerpersklere, uitspattige partytjies en die duurste diamante sal deel vorm van dié 13-episode-reeks teen die agtergrond van Pretoria.

“Dit is ’n voorreg om die bekende internasionale Real Housewives-formaat na kykNET te bring,” sê Waldimar Pelser, direkteur van die kykNET-kanale.

“Die feit dat hierdie reeks afspeel in Pretoria eerder as Lagos of Kaapstad sou altyd vereis dat ons dit anders benader as die ander reekse van Real Housewives wat oor die hele wêreld heen vervaardig is.

“Ons wil vir ons kykers ’n groep sterk Afrikaanse vroue uit Pretoria wys wat groot spelers is in hul gesinne én gemeenskappe, wat eg Afrikaans is, en wat natuurlik ook die swier bring waarvoor Real Housewives bekend is,” verduidelik Pelser.

“Hierdie vroue lewe gróót. Hulle ken die mooi dinge in die lewe. Dít is ’n rare kans om hulle van nader te leer ken, en in hul (hoëhak-) skoene te loop.”

Die Real Housewives van Pretoria is die vyfde weergawe van die Real Housewives-formaat in Afrika, wat Johannesburg, Durban, Lagos en Kaapstad insluit. Die formaat word internasionaal deur NBCUniversal Formats versprei en het al talle toekennings opgeraap.

“Ons is opgewonde om nóg ’n weergawe van die Real Housewives-formaat na Afrika te bring,” sê Nomsa Philiso, uitvoerende hoof van programmering: M-Net-kanale.

“Dit stem ooreen met ons onderneming om ’n diverse aanbod aan ons kliënte te bied en om daarop voort te bou om plaaslike stories as Afrika se mees geliefde storieverteller te vertel. Die Real Housewives van Pretoria sal niks minder as outentieke vermaak en opwindende inhoud aan kykers bring nie.”

Die reeks word deur Provoco vervaardig. Provoco het ook werklikheidsreekse soos Sex in Afrikaans, Die Siener en Liefde sonder grense vervaardig.

“Ek is oortuig dat Die Real Housewives van Pretoria die land aan die gons gaan kry en aan die gons gaan hou. Daar is meer as genoeg oomblikke wat jou sal laat snak na asem, maar ook twee keer sal laat dink oor die tradisionele siening dat Pretoria konserwatief en vervelig is!” sê Rian van Heerden, uitvoerende vervaardiger van die reeks.

Sonder om te veel te verklap kan kykers ’n onbeplande resies in luukse voertuie, ’n dramatiese staptog, Botox-behandelings, hiënas, ’n aksiebelaaide reis na Zanzibar en heelwat perde verwag.

Die Real Housewives van Pretoria saai vanaf 13 Oktober om 20:00 uit op kykNET DStv-kanaal 144 en sal gelyktydig beskikbaar wees op Showmax.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Miena ·

Ek het al gehoor van al die “Real Housewives” stories – Genade nou is hulle al in Pretoria – so op my voorstoep sommer. Wonder of ek gaan kyk en hartseer wees omdat ek nie al die weelde het en kan bekostig nie of kyk en liewer dankie se vir wat ek wel het (minus al die drama van welgesteld-wees); of sommer dalk net nie kyk nie soos met al die voriges ook. Ek sal net hoor van hulle…

VaalDonkie ·

Hulle word vooraf vertal wat hulle moet doen en watter “drama” daar moet wees. Ek sou nie veel stres nie.

Jaco ·

Eks verstom dat mense nog deelneem aan reekse soos dié een en Boer soek ‘n vrou. Alles word gewys: die luukse huis, luukse motor, die plaas, waarmee geboer word. Dis egter alkes net ‘n ope uitnodiging wat skree: onteien my eendag sonder vergoeding. Dieselfde met TV reekse soos Grootplaas en Megaboere. Moenie dink daars geen Afrikaanssprekendes in die ANC, EFF en BLF nie. Baie van hulle verstaan wel Afrikaans, hulle kyk ook TV en baie van hulle het ook DSTV. Wanneer gaan Kyknet en ons mense leer om hulself nie so bloot te stel nie?

FranWilder ·

Plaas maak hulke die real housewives van pta wes. Dit sou pret wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.