Arendsvlei-akteurs maak stemme dik

Cantona James vertolk die rol van Daniel Lafras in Arendsvlei (Foto: Verskaf)

Daar is ʼn toekoms vir die jonger generasie akteurs, meen Cantona James, wat die rol van Daniel Lefras in kykNET se telenovela, Arendsvlei, vertolk.

James het onlangs die kykNET-Fiësta-toekenning vir beste opkomende kunstenaar vir sy vertolking in In Slavenhuis 39 en Wolf Onbeperk ontvang. Hy verduidelik dat die toekoms rooskleurig lyk, danksy ʼn gedeelde liefde vir kuns en ondersteuning onder ʼn jonger generasie akteurs.

“Wat ek love van ons jong generasie is die liefde wat ons vir mekaar se kuns het,” vertel hy. “Ons is altyd appreciative, bereid en gereed om sáám met mekaar te werk.”

James en sy medeakteurs Robyn Rossouw, Courtney Hendricks en Gershwin Mias het met Maroela Media gesels oor hul karakters, die vermaaklikheidsbedryf en hul liefde vir teater.

“Ek is soos my karakter, Cardo, omdat ek ook jonk is en self dans,” vertel Hendricks. Die 23-jarige akteur vereenselwig hom met sy karakter, maar verduidelik dat Afrikaans vir hom ʼn groot uitdaging is. Hy skram nie weg nie en werk deurentyd hard om die taal onder die knie te kry.

Mias, ʼn 26-jarige akteur van Eersterivier in die Kaap, vertolk die rol van Zane Meintjies in Arendsvlei. Mias meen die kykers het reeds ʼn liefde-haat-verhouding met sy karakter.

“Cardo herinner die kykers aan iemand wat hulle self ken. Hy is onbeskof en lui om huiswerk te doen.” Hoewel Mias en Cardo van mekaar verskil, geniet hy dit om lewe aan die karakter te gee.

“Ek hou baie van Cardo. Ons is so verskillend en juis daarom is dit so lekker om die rol te vertolk.”

Mias het sy dramagraad by die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Hy het terselfdertyd aansoek gedoen om dans by die Universiteit van Kaapstad te studeer, maar vanweë ʼn besering het hy op drama besluit.

Rossouw, 22-jarige boorling van Kimberley, vertolk die rol van Monique Ross in die reeks. Sy het óók haar dramagraad by die Universiteit van Stellenbosch voltooi en daarna ongeveer twee maande by die huis deurgebring voordat sy vir haar eerste oudisie gegaan het.

“Ek wou altyd ʼn veearts geword het, totdat ek in graad 8 net bloed gesien het – too much emotions,” verduidelik sy met ʼn dramatiese gebaar. Rossouw vertel dat sy ook ʼn sangeres wou wees, maar dat sy tot in haar tweede jaar relatief min selfvertroue gehad het.

“Ek het in my eerste en tweede jaar met niemand gepraat nie,” verduidelik sy. “Nicole Holm, een van my dosente in dié tyd, het toe vir my gesê ek moet aan my insecurities werk, want dit gaan my terughou.”

Van daar af het Rossouw daadwerklik aan haar selfvertroue gewerk. Sy het in haar finale jaar kabaret en fisieke teater as vakke geneem en meen dit het haar gehelp om as kunstenaar te ontwikkel.

Rossouw het ná haar studie by ʼn agentskap aangesluit wat haar gehelp het om aan oudisies deel te neem en so ʼn paar rolle los te slaan.

James, ook ʼn oud-Matie, vertel dat hy weens omstandighede nie sy dramagraad voltooi het nie.

“Ek het nie toestemming by die universiteit gekry om Arendsvlei en die laaste ses maande van my studie saam te doen nie,” vertel hy. “Dit was ʼn bitter moeilike besluit, maar ek het die werk meer nodig gehad.”

Dié groep akteurs is vol lof teenoor kykNET wat dit vir hulle moontlik maak om te doen waarvoor hulle lief is. Maar hulle voeg by dat die geleenthede nie as vanselfsprekend aanvaar word nie.

“Ek dink wat baie cool is van ons jong mense, ons weet ons kan nie daarop reken dat die geleenthede na ons toe gaan kom nie,” meen Rossouw. “Ons het die passion om ons eie goed te doen en te promote.

James en Mias stem saam dat hulle deel van ʼn groter beweging is.

“Daar is ʼn shift aan’t gebeur en ons is deel van die change,” meen hulle.

Arendsvlei vertel die storie van ’n semiprivate hoërskool op die Kaapse Vlakte wat deur die Cupido-familie bestuur word. Dit handel oor ’n broer en suster, albei onderwysers, wat vasberade is om ’n verskil te maak deur soveel moontlik leerders in die gemeenskap toegang te gee tot gehalte-onderwys.

Dit is die eerste telenovela in Afrikaans en word van Maandag tot Woensdag om 20:00 op DStv, kanaal 145 (kykNET & Kie), uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

summie ·

Ek en my man is absoluut mal oor “Arendsvlei”, ons mis nie ‘n enkele episode nie ! Dit is ‘n baie goeie storielyn, en ons geniet die karakters en al hulle sê-goed verskriklik baie ! Spyt dit is nie elke aand nie. Doen so voort !!

Kaal Keiser ·

Ek sekondeer ! Mis nie ‘n episode nie. Baie goeie akteurs en storielyn !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.