‘Arendsvlei’ se Wendy vertel oor rol as die feeks

Rehane Abrahams vertolk die rol van Wendy Newman in 'Arendsvlei'. (Foto: Verskaf)

Rehane Abrahams vertolk die rol van Wendy Newman in ‘Arendsvlei’. (Foto: Verskaf)

Wendy Newman, die feeks in die kykNET-telenovela Arendsvlei, het kykers se tonge behoorlik aan die klap en Rehane Abrahams, die gesoute aktrise wat dié rol vertolk, geniet elke oomblik daarvan.

Abrahams, wat destyds haar televisiedebuut gemaak het in die SABC1- opvoedkundige drama, Die Allemans, was sedertdien te sien in die reeks Hotnotsgode en die rolprent Raya, waarin sy die titelrol vertolk het.

Nóú kuier sy weekliks op die kassie as die omstrede Wendy Newman, wat sy beskryf as ʼn komplekse karakter met baie geheime.

“Wendy het ʼn ingewikkelde verlede. Sy is vol selfvertroue, maar eintlik is sy inniglik eensaam en vol pyn wat sy nie wys nie. Sy het ook ʼn paar psigopatiese neigings,” vertel sy.

Abrahams voeg by dat dit ʼn uitdaging is om die karakter interessant te hou sonder om in ʼn cliché te verval. “Om altyd mense te verras, is ʼn groot uitdaging. Ek wil graag ʼn karakter skep wat vir die kykers opwindend is en wat mense op hul tone hou.”

Sy vertel dat sy al ʼn paar draaie in die buiteland gemaak het. Nadat sy aan die Livingstone High School in Kaapstad haar matriek verwerf en later haar dramagraad aan die Universiteit van Kaapstad se dramaskool voltooi het, het sy eers ʼn draai op Die Allemans gemaak voordat sy in 1993 in San Francisco in die VSA haar eie potjie gaan krap het.

Abrahams was daar op die planke saam met teatergeselskappe soos die San Francisco Shakespeare Festival en die Thrillpeddler’s Theatre Company. In dié tydperk het sy ook in die onafhanklike rolprent, An Act of Sabotage, gespeel, wat vertoon is op feeste en op ZDF TV in Europa.

Rehane Abrahams as Wendy Newman in 'Arendsvlei'. (Foto: Verskaf)

Rehane Abrahams as Wendy Newman in ‘Arendsvlei’. (Foto: Verskaf)

Sy het egter in 1998 besluit dit is tyd om huis toe te kom en het kort daarna die rol van Zelda in Hotnotsgode vertolk.

“Die hele wêreld is ʼn lekker plek om jou woning te maak, dit hang af van jou eie gemoedstoestand. Vir my is dit lekker om in Suid-Afrika te woon en werk, want ons stories is so na aan my hart en so bekend vir my,” sê Abrahams.

Nadat sy in 2001 in die naamrol in die rolprent Raya te sien was, het sy in 2003 weer haar tasse gepak en tot en met 2014 in Indonesië gaan woon. Daar het sy dans studeer en as teaterregisseur gewerk voordat sy in 2015 teruggekeer het na Suid-Afrika.

Rehane Abrahams as Wendy Newman in 'Arendsvlei'. (Foto: Verskaf)

Rehane Abrahams as Wendy Newman in ‘Arendsvlei’. (Foto: Verskaf)

“Dit was tyd om huis toe te kom. Ek het my familie en my gemeenskap, en veral my kreatiewe gemeenskap, verskriklik gemis,” vertel sy.

Abrahams, wat benewens Afrikaans en Engels ook Indonisies vlot praat, verklap dat sy tuis hou daarvan om lekker kos te kook saam met haar vriende en familie. “Behalwe vir repiteer vir die verhoog en skryf aan teaterstukke is my lewe maar doodgewoon. Ek hou liewer die drama vir die kamera!” skerts sy.

Arendsvlei is elke Maandag, Dinsdag en Woensdag om 20:00 te sien op kykNET & Kie, DStv-kanaal 145.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

honourable member ·

Hierdie is n baie goeie reeks. Geniet dit baie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.