Video: Arnold Vosloo terug in Pretoria én hy praat Afrikaans

Arnold Vosloo as Daan Ludik in die Netflix-reeks, “Ludik”. (Foto: Netflix)

Arnold Vosloo, die Suid-Afrikaanse akteur wat die afgelope 35 jaar in Amerika woon en werk en al in verskeie groot films en reekse te sien was, maak op 26 Augustus sy buiging in die hoofrol van Ludik, Netflix se eerste Afrikaanse reeks. Hy het hieroor met Maryke Roberts gesels.

Ludik word môre op Netflix wêreldwyd uitgereik. Dit beteken dat kykers in 190 lande die reeks kan sien, of soos Arnold vertel: “Mense sal van Tokio tot Argentinië vasgenael voor die skerm sit. Ek is só trots daarop en kan nie wag dat mense dit moet sien nie. Ek dink dis my beste werk tot op hede.

Arnold vertel dis ses een-uur episodes vir die eerste seisoen en die hoop is daar om uiteindelik drie seisoene te verfilm − afhangend van hoe gewild die eerste seisoen is. Die reeks word ook in verskeie  tale oorgeklank.

(Foto: Netflix)

Arnold speel die suksesvolle Pretoriase sakeman, Daan Ludik, wat ʼn meubelwinkel wat meubels en matte verkoop, besit. Sy gesig is aan mense regoor die land bekend, sy winkel het takke in drie provinsies. Maar sy spoghuis in Pretoria is nie net met meubelgeld betaal nie. Smokkelary is deel van sy inkomste. Voeg hierby ʼn trofee-vrou wat eintlik nie deur Daan of sy dogter uit sy eerste huwelik gereken word nie, en die familiedrama loop dik.

Daar is kapings en wapensmokkelaars en polisiemanne wat snuffel tot hulle iets raak ruik en soos Arnold dit opsom: “Dis ʼn lekker gesinsdrama met genoeg aksie in, oor hierdie Boere ou wat met almal moet onderhandel, insluitende sy familie. Dink aan die lekker gesinsdrama-reekse soos Ray Donovan en Ozark, maar in Afrikaans, in Pretoria,” vertel hy trots tydens ʼn geselsie in Kaapstad hierdie week.

Langs hom sit Rob van Vuuren, wat die rol van Daan se swaer, Swys de Villiers speel, Sean Cameron Micheal wat ʼn Ierse boosaard, Arend Percival Brown speel en sy skoothondjie en skurk, Jandre le Roux, wat Burian Zelinski speel. Hulle vul mekaar se antwoorde goed aan.

Arnold sê die taalvermenging in Ludik van Afrikaans en Engels, is hoe Suid-Afrikaners praat. Alles het subtitels, om die mark nog wyer te maak.

Hy sê dié draaiboek, waaraan hy nou al jare lees en wat uiteindelik na ses, sewe jaar verfilm kon word, is puik. Die drie ander akteurs beaam dat akteurs net so goed soos die teks is.

Rob sê die reeks was vir hom ʼn geweldige leerskool. “Natuurlik het ek baie by Arnold geleer, maar ook by almal. Ek kan dit nogsteeds nie glo dat ek deel van hierdie ongelooflike produk is nie. Swys is ʼn komplekse karakter en sy rol was so volrond. Ek het net gegooi.” Jandré sê vir Rob dat hy “goed gegooi het”.

Diaan Lawrenson speel Daan Ludik se trofee-vrou, Anet (Foto: Netflix)

Die Afrikaanse dialoog was vir hom ʼn eerste én moeilik, maar ʼn ongelooflike ervaring.

Jandre sê wat hy die meeste geniet het, was om die “bad guy” te speel. “Ek is oor die algemeen ʼn lekker mens en dit was lekker om mense te ‘slaan’ en net pret te hê. Dit was my grootste rol nog en saam met hierdie talentvolle akteurs was dit groot pret.”

Hy erken dat jy ontdek dat jy tot baie meer in staat is, as wat jy aanvanklik gedink het, wanneer jy diep binne jouself moet delf vir ʼn rol soos hierdie.

Sean is geen vreemdeling vir die internasionale rolprentwêreld nie en het al in Hollywood gewoon en gewerk, maar sê om by die huis internasionaal te werk, is wonderlik. “Ek is trots Suid-Afrikaans. En om ʼn ander deel van Suid-Afrika te wys, die Pretoria-onderwêreld, was lekker.”

Maar dit bring my terug na Arnold. Sy CV is lank en wyd en strek oor 40 jaar: Amerikaanse reekse soos The Blacklist, Bosch, 24, Bones, Jack Ryan; loket-filmtreffers soos Blood Diamonds, The Mummy en Hard Target. In 2019 speel hy sy eerste rol in Afrikaans in meer as 30 jaar, toe hy Kolonel Dick De Waal, die ondersoekbeampte van die Griekwastad-moorde speel, in die film, Griekwastad. Die film is gegrond op die moorde van Deon en Christel Steenkamp en hul dogter, Marthella (14) op hul plaas, Naauwhoek buite die dorp.

Drie jaar later is hy terug as Afrikaanse polisieman in Silverton Siege, wat op 27 April op Netflix uitgereik is.

Hy is tans in Suid-Afrika vir onderhoude vir Ludik, maar ook om aan Heart of the Hunter, gegrond op die gelyknaminge Deon Meyer boek, te werk. Mandla Dube wat die regie gedoen het vir Silverton Siege, is weer die regisseur en Arnold speel ʼn joernalis in die rolprent.

Ek wonder oor waar sy liefde lê: by die skurk-rolle of die goeie polisiemanne. “Die goeie slegte ou,” vertel hy laggende. “Daan Ludik is die hoogtepunt van alles wat ek weet hoe om te doen. Die goeie en slegte ou in elke toneel.

“Moet nooit jammer voel vir Daan nie, sy kinderjare het hom gevorm. Hy is ʼn hustler; as jy jammer voel vir hom, steel hy jou skoene.”

Tydens hierdie besoek, gaan hy ook mentorskapsessies aanbied. Hy is die kykNET Silwerskermfees se beskermheer en die mentorskapsessie is vir die twee wenners van die 2022-fees se akteurs vir beste kortfilms, Marlo Minnaar en Carla Smith. Marlo het gewen vir sy rol in Aan/Af en Carla vir Skyn.

Arnold vertel dat hy beplan om hulle onder meer na die stel van Heart of the Hunter te nooi, dat hulle kan sien hoe internasionale reekse verfilm word.

Hy sê om in jou geboorteland gevra te word om beskermheer te wees vir ʼn fees wat eg-Suid-Afrikaanse talent bevorder en boonop mentorskapsessies aan te bied, beteken alles. “Dis amazing. Jy is alleen daar anderkant en jy doen jou ding en jy dink mense by die huis het vergeet van jou. Dis ʼn fantastiese geleentheid vir my en ek neem dit baie ernstig op. Om ʼn mentor te wees vir jong talent. Ek sien baie uit daarna.”

Marlo sê: “Dit is vir my ʼn absolute voorreg om hierdie mentorsessie met mnr. Vosloo te doen. Arnold Vosloo se loopbaan is ʼn groot inspirasie vir my − die feit dat hy al met die room van die oes in die Hollywoodse bedryf gewerk het; sy eie repertoire, en dat hy steeds soveel passie het om terug te kom Suid-Afrika toe en terug te ploeg in plaaslike talent, is iets om te aanskou en na te streef.”

“Ek wil soos ʼn spons wees en net luister na sy raad oor hoe hy dit nog regkry om hierdie marathon te hardloop en steeds nederig te bly. Ek glo dat akteurs nie naellope hardloop nie, maar wel ʼn marathon.

“Ek moes ʼn paar maande gelede ʼn Amerikaanse aksent doen vir ʼn teaterstuk en het opnuut weer liefde gekry vir aksentwerk, so ek hoop dat ek ook van hom kan leer deur te fokus op speltegnieke, aksente asook die emosionele belegging in karakters en so meer.”

Die fees se programdirekteur, Ricky Human, vertel uit Australië: “Arnold was in 2019 toe hy die Silwerskermfees bygewoon het vir die première van Griekwastad, so beïndruk met die fees se werksaamhede, dat hy ingestem het om die beskermheer te word. Dis vir ons ʼn groot eer dat ʼn internasionale ster van Arnold se kaliber die fees amptelik ondersteun.”

Arnold sê hy voel ongelooflik oor die toekoms van rolprente en reekse in Suid-Afrika met die koms van Netflix en ook nou Amazon. “Daar was voorheen net een of twee groot vervaardigers, maar met die koms van hierdie internasionale reuse, het hulle die Suid-Afrikaanse bedryf kom demokratiseer. Hulle begrotings is groter; hulle wil hê jy moet produk maak vir Suid-Afrika, nie vir Amerika nie. Hulle hele sakeplan is ingestel om sukses te behaal in jou plaaslike omgewing en as dit goed genoeg is, kan dit oorsee reis.”

Arnold sê Silverton Siege is ʼn goeie voorbeeld. As die film tien jaar terug gemaak is, sou daar minder geld beskikbaar gewees het; dit sou in Suid-Afrikaanse teaters vertoon word en dalk oorsee gegaan het. Maar nou met Netflix bemark hulle dit oorsee, hulle gee ʼn behoorlike begroting − niks uitspattig nie − maar die hulpbronne is daar om ʼn goeie film te maak en dit gaan wêreldwyd uit. Twee weke na die uitreiking in 193 lande, was dit nommer 2 op die gewildheidslys.

“Dis ongelooflik vir ʼn klein Suid-Afrikaanse film. ʼn Mens kan nie genoeg dankie sê vir al hierdie stroom-dienste nie. Hulle soek voortdurend nuwe produkte, want mense skakel in en soek nuwe goed om te kyk.”

Arnold speel die rol van kaptein Johan Langerman, wat met drie “terroriste” wat gyselaars in ʼn bank aanhou, moet onderhandel. Thabo Rametsi speel die leier van die drie MK-soldate, Calvin Khumalo, en Noxolo Dlamini speel Mbali Terra Mabunda. Die derde lid van die groep is Stefan Erasmus as Aldo Erasmus.

Die fliek is die storie van drie MK-vegters wat die land in die tagtigs moes ontwrig met sabotasie. Die bankdrama was ʼn nadraai van ʼn mislukte sabotasieprojek by ʼn petroleumdepot in Silverton. Hulle optrede daardie dag in Januarie 1980, waar hulle uiteindelik op Nelson Mandela se vrylating aandring, word gereken as die amptelike geboorte van die internasionale “Free Nelson Mandela”-veldtog.

Om aan Silverton Siege te werk, wat grotendeels op Kerkplein in Pretoria − sy geboorte- en studentestad − verfilm is en weer daar aan Ludik ook daar te werk, was baie lekker. Hy onthou dat die filmspan die hele plein oorgeneem het vir Silverton Siege om bome, plante en blomme te plant dat dit lyk soos 1980. En tydens die Ludik-verfilming was die jakarandas in volblom.

Agter die skerms op die stel van “Ludik”. (Foto: Netflix)

“Dit was lekker om terug te wees in die Jakarandastad 40 jaar later. Ek ken die stad nie goed nie en ek het nie my graad voltooi by Pretoria Technikon nie, want ek het geweet ek is nie ʼn ou wat drie jaar op klas gaan sit nie, ek wil toneelspel en ek wil dit nie leer uit ʼn boek nie.

“Maar om al my tricks en ervaring van vier dekades toe te pas, was lekker en om die plaaslike filmmakers te help om ʼn beter fliek te maak, was ʼn voorreg.”

Silverton Siege is die regisseursdebuut van Mandla en hoewel dit op ware gebeure gegrond is, het Mandla baie fiksie ingewerk omdat dit nie ʼn dokumentêre film is nie, maar vermaak moet bied. “Dit was lekker vir my. Skielik maak dit jou vry. Jy het die vryheid om jou eie ding te ontdek. Ek wou nie met die oorspronklike polisiemanne praat nie, al leef hulle nog,” gesels Arnold.

Arnold sê dit was dan die grootste verskil tussen die polisiemanrolle in Griekwastad en Silverton Siege: vir eersgenoemde moes hy baie getrou aan die waarheid speel. Die land was geruk deur die moordsaak en die film moes sensitief en akkuraat wees.

Mandla het egter in Silverton Siege onder meer nie drie mans, soos wat werklik gebeur het, gebruik in die film nie, maar twee mans en ʼn vrou.

Arnold sê dat “Kaptein Langerman aan die begin die hardegat polisieman is − hy wil hulle toesluit, want hulle is terroriste. Dan hardloop hulle in ʼn bank in en hy moet met hulle onderhandel om die gyselaars se lewens te red en skielik sien hy dat hulle werklik vir geregtigheid baklei en dat hul cause just is, en teen die einde van die film is hy ʼn ander man. Hy sê vir een van die ander polisiemanne: ‘What is the price of freedom? Everything.’ Hy verstaan hoekom hulle baklei en dit verander hom.”

“Dis wonderlik om in Afrikaans te werk en dit op ʼn internasionale platform te kan sien. ʼn Mens werk baie keer in Afrikaans, maar hulle sien dit net op Bapsfontein. Ons wys vir mense wat ons kan doen,” vertel hy.

Arnold Vosloo (as Daan Ludik) en Diaan Lawrenson (as Anet Ludik) in die Netflix-reeks, Ludik. (Foto: Verskaf)

Al wat hom na ʼn rol lok, is die teks. “Die regisseur of mede-akteurs maak nie saak nie. Alles andersins is ʼn bonus as dit lekker is. As die teks goed is, is daar ʼn goeie kans dat die film of reeks sal goed wees,” vertel hy. Die ander drie akteurs skud oordrewe hul koppe, maar stem eintlik in alle erns saam. Rob en Sean voeg by dat die draaiboek werklik uitstekend is.

Arnold het 35 jaar gelede toevallig in Los Angeles beland nadat ʼn agent hom in ʼn Suid-Afrikaanse toneelstuk gesien het. Hy het nie gedink hy sou daar gaan woon en boonop sy vrou, Sylvia, daar ontmoet nie, maar hulle dink daaraan om binnekort ʼn huis in Suid-Afrika te koop en jaarliks ses maande hier te woon.

As hy terugdink aan sy beginjare in Hollywood, is dit swaarkry en alleenheid wat hy onthou. Gelukkig het hy vasgebyt en ʼn baie goeie loopbaan gebou.

Sy ma, Joyce (88) en suster, Nadia, woon nog in Gauteng en Arnold is ook baie geheg aan ʼn string niggies, nefies, ooms en tannies. Hy is baie familievas en verklaar dat sy neefs, aan sy ma se kant, vir hom soos broers is.

Hy lag as hy erken dat hy nie weet watter raad om vir jong akteurs te gee nie. “Soms voel ʼn mens jy weet alles, maar eintlik nie. Maar wat ek wel weet, is dat as toneelspel jou gekies het, jy sal aanhou, of jy nou geld maak of nie, die werk sal jou kies as jy dit kies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.