Luister: Só sê Arnold Vosloo oor Afrikaanse Netflix-reeks

Arnold Vosloo kuier in Maroela Media se ateljee. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Geweld, grusame gierigheid, ʼn familielid wat ontvoer word en diamant- en wapensmokkelary. Dít is alles wat op kykers wag in Ludik, Netflix se heel eerste Afrikaanse reeks wat op 26 Augustus begin.

“Ek en Paul (Buys) het seker ses of agt jaar terug al begin om oor hierdie storie te gesels, en nou kan ons dit uiteindelik met mense deel en dit vir kykers wys,” vertel Arnold Vosloo in Maroela Media se ateljee.

Ludik se teks was van die begin af uitstaande. As die teks nie goed was nie, sou ek nooit vir Paul ontmoet het nie,” sê Vosloo verder. “Daarom wou ek graag deel daarvan wees.”

Vosloo is in die hoofrol te sien as Daan Ludik, ʼn familieman uit ʼn gegoede buurt in Pretoria-Oos wat uit niks kom nie en mettertyd sy eie koninkryk gevestig het.

Arnold Vosloo as Daan Ludik in die Netflix-reeks, Ludik. (Foto: Verskaf)

Daan is ʼn suksesvolle meubelverkoper en die gesig van sy onderneming. Sy stem word gereeld op radio gehoor, hy maak ook sy verskyning op die kassie en sy gesig pryk op menige reklamebord.

In Ludik leer kykers ook ʼn donker kant van Daan se lewe ken wanneer ʼn geheim hom met die onderwêreld verbind. Met sy gesinslewe in beroering, word Daan se vindingrykheid en prioriteite voortdurend uitgedaag soos wat hy probeer om ontmaskering, ʼn gevaar om sy gesin te verloor, tronkstraf en uiteindelik die dood te ontwyk. Terwyl hy sukkel om sy persoonlike verhoudings en onderneming te beskerm, moet hy op ou en nuwe bondgenote staatmaak om te seëvier.

“Daan is ʼn komplekse karakter, soos wat ons almal maar op ʼn manier is. Dit was ʼn baie lekker rol vir my. Een van die bestes wat ek nog gehad het,” meen Vosloo.

Die ander rolle word vertolk deur onder andere Rob van Vuuren, Zane Meas, Jandre le Roux, Inge Beckmann, Lea Vivier, Sean Cameron Michael, Diaan Lawrenson, Dirk Stolz en Terence Bridgette.

Ludik is plaaslik deur Rose and Oaks Media vervaardig met Buys, Frankie du Toit en Anele Mdoda as uitvoerende vervaardigers. Die teks is geskryf deur Buys en Annemarie van Basten.

Buys, wat saam met Vosloo in die Maroela-ateljee was, gesels oor die pad vol duwweltjies wat hy en sy span gestap het tot waar hulle nou die reeks met kykers kan deel.

Volgens Buys was daar verskeie uitdagings, maar wanneer hy nou terugkyk, is hy nie een oomblik spyt dat hy deurgedruk en aanhou glo het in sy produk nie.

Die lokprent vir Ludik, Netflix se eerste Afrikaanse reeks, is pas uitgereik, en gee kykers ʼn heerlike voorsmakie van al die aksie, drama en intrige wat op hulle wag. Kyk hier:

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Arnold Vosloo, wat die rol van Daan Ludik speel, en Paul Buys, vervaardiger van die Netflix-reeks, Ludik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.