Bekkige wysneuse terug vir nog ʼn seisoen van ‘Kyk wie praat’

Die aanbieder van ‘Kyk wie praat’, De Klerk Oelofse. (Foto: verskaf)

Die jongste seisoen van die bekkige kykNET-program, Kyk wie praat, skop op 27 Julie af en beloof om die lagspiere opnuut te prikkel.

Die aanbieder van die gewilde program, De Klerk Oelofse, gesels maklik oor sy opgewondenheid oor dié nuwe seisoen en die wysneusies wat daaraan deelneem.

“Die vorige seisoen was só wonderlik en dit is so ’n wonderlike program. Ek is bly dat ons dié keer kinders van regoor die land kon kry om aan die program deel te neem.”

As gevolg van die inperking het daar net kinders van die Wes-Kaap aan die vorige seisoen deelgeneem. Dié keer is die net wyer gegooi en is daar kinders van die uithoeke van die land wat op die kassie gaan pronk met hul skattige sêgoed.

Hy skerts dat kinders vir hom opnuut geleer het om eerlik te wees wanneer hy gesels oor verwagtinge oor die program se gewildheid.

“Jy kan nie eintlik verkeerd gaan met dié soort kinderlike eerlikheid nie. Ek was nie verbaas nie, ek was bly dat mense dit sien soos ek dit sien.”

As student het hy na vier episodes van Small Talk, ’n soortgelyke program, gesit en kyk. Dit is een van die redes waarom hy sy hand gretig opgesteek het om deel van Kyk wie praat te wees.

Kindwees is iets wat Oelofse nog nooit werklik behoorlik gegroet het nie; hy gaan soek dit steeds om elke hoek en draai in sy eie lewe.

“Ek is een van daardie mense wat verskriklik hard baklei daarteen om oud te word, ek wil die kind in my wakker hou.”

Hy vertel skertsend dat hoewel die eerlikheid en onskuld van die deelnemers hom jonk hou, hy ook besef waar sy werklike ouderdom lê wanneer hulle gesels oor kinders se helde en die programme waarna hulle deesdae kyk.

Oelofse geniet die oudisie-fase van die program terdeë. Kinders se aard van onvoorspelbaarheid is wat dit vir hom kosbaar maak.

“Ons sit vir om en by tien uur per dag, ’n halfuur per kind, met kinders en gesels. Dis ’n bevredigende proses.”

Alhoewel humor deur die program geweef is, is dit vir hom belangrik dat mense die dieper dele van die lewe herontdek deur die onskuld van die kinders.

“Dié klein mensies dink óók daaroor. Wat wonderlik is, is dat hulle dit in sy eenvoudigste vorm verwoord. Hul ervaring is dalk minder as ons s’n, maar dit maak dit nie minder groot nie.”

Die boodskap wat vir Oelofse in die lighartige program opgesluit lê, is dat volwassenes soms terug moet kan keer na kinderlike eenvoud en eerlikheid wat kinders so gemaklik saam met hul ronddra.

  • Kyk wie praat word van Woensdag 27 Julie weekliks om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hannelie ·

Die bekkige kindertjies is so oulik……en die sêgoed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.