‘Binnelanders’ se Julia oor ‘uiters uitdagende storielyn’

Eloise Clasen is Julia in Binnelanders. (Foto: kykNET)

Gisteraand (Donderdag) se episode van die gewilde kykNET-hospitaalsepie Binnelanders het kykers na hulle asems laat snak toe Julia, vertolk deur Eloise Clasen, uitgevind het sy het positief getoets vir die BRCA-mutasie borskankergeen.

Julia het haar ma aan borskanker afgestaan en ʼn niggie wat baie na is aan haar het ook onlangs deur dié siekte geworstel. Juis daarom is Julia en haar kêrel, dr. Hugo Vos (vertolk deur Cobus Rossouw), diep geruk wanneer sy dié slegte nuus ontvang.

Binnelanders-kykers sal vir die volgende paar weke saam met Julia en Hugo op ʼn hartroerende reis gaan wanneer sy ʼn paar voorkomende operasies ondergaan.

Julia het aanvanklik haar verskyning gemaak as Hugo se eksvrou en ma van hulle jong seuntjie wat destyds onder Elana (vertolk deur Ilne Nienaber) se toesig verdrink het. Julia en Hugo se huwelik het as gevolg van dié traumatiese gebeurtenis gesneuwel, maar hulle het onlangs hulle liefde vir mekaar herontdek toe Julia by Binneland begin werk het as terapeut.

Volgens Clasen was dié storielyn uitdagend om te vertolk, aangesien borskanker so ʼn prominente siekte in die samelewing geword het en sy die rol verantwoordelik wou vertolk.

“Dit was vir my uiters belangrik dat ons nie net ligtelik oor die storielyn gaan nie, want ongelooflik baie vroue wat kyk na die sepie kan met hierdie hartseer en pyn vereenselwig,” sê Clasen.

Cobus Rossouw en Eloise Clasen in ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

Sy vertel ʼn vriendin van haar is onlangs aan kanker dood en dit het haar laat besef hoe ná aan elkeen van ons dié siekte is.

“Dit was baie intens om myself elke dag in hierdie karakter in te leef,” erken sy. Gelukkig het sy ʼn liefdevolle gesin wat aan die einde van elke werksdag dié las help ligter maak, voeg sy by.

Clasen is getroud met die akteur en regisseur Neels Clasen (Raaiselkind, Stroomop). Hulle oudste dogtertjie Rosebelle (7) is tans in gr. 1 en mis nie ʼn episode van Binnelanders nie. “Sy noem dit haar eie Grey’s Anatomy,” lag Clasen.

Sy sê dit was interessant om die storielyn van Julia en Hugo se hereniging te vertolk met Covid-19-protokolle, soos dat geen fisieke kontak tussen die akteurs op die stel toegelaat word nie.

Cobus Rossouw en Eloise Clasen in ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

“Julia is ʼn vrolike, liefdevolle karakter om te vertolk en dit voel asof ek en Cobus mekaar al jare ken. Ons speel baie gemaklik teenoor mekaar. Ek voel, ten spyte van die borskankergeen wat by haar opgetel is, het Julia se verhouding weer ʼn ligtheid na Binneland ingebring.”

Die aktrise vertel sy is self in haar 20’s skrik op die lyf gejaag toe sy knoppe in haar borste ontdek het. Ná ʼn mammogram en ʼn biopsie is daar beslis dat die knoppe nie kwaadaardig is nie.

“Dit het my laat besef hoe belangrik dit is om gereeld jou borste te laat ondersoek en om ook self jou borste te ondersoek. Daar is baie video’s op YouTube wat jou kan touwys maak hoe om dit te doen. Hoe vroeër ʼn knop ontdek word, hoe beter.”

Binnelanders is elke weekaand om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AmY ·

Ek hou baie van hierdie aktrise en haar rol in Binnelanders.
Ek dink hierdie gaan ‘n baie interessante storielyn wees. Sien uit daarna.

Cecilia ·

D storie lyn herhaal hom keer op keer. How boaring. Gelukkig kyk ek nie d twak nie. D draaiboekskrywers skryf al in d rondte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.