Brendan se Namibsroos praat oor liefde vir mense, avontuur

Katja Pieters tydens die verfilming van “Op my eish!”. (Foto: Katja Pieters/Instagram)

Katja Pieters is nie iemand wat noodwendig ʼn maatsoekprogram op haar emmerskoplys gehad het nie, maar haar avontuurlustige natuur het nog altyd gesorg vir interessante lewenservarings.

Hierdie ingebore spontaniteit is juis die rede waarom haar geliefdes nie eintlik verbaas was toe die nuus oor haar deelname aan die derde seisoen van Op my eish! op die lappe gekom het nie. Natuurlik is ʼn werklikheidsprogram iets heeltemal nuut, sê die 25-jarige Namibiese skoonheid, maar sy is net die soort mens wat so iets sal doen.

“Ek het die ervaring vreeslik geniet en sal dit enige tyd weer doen, dalk net hierdie keer in die vorm van Survivor of Top Chef. Ek het nou die maatsoekprogram beleef, kom ons probeer iets anders,” skerts Katja.

Sy raak egter ernstig wanneer sy erken hoeveel sy geleer het tydens die verfilming van die reeks.

“Ek wou my hele lewe lank nog altyd in beheer wees. Hierdie program het my geleer dat jy niks werklik kan beheer nie. Jy kan nie beheer hoe jou dag gaan wees nie, ook nie wat Brendan of die ander mense van jou gaan dink nie.

“Wat ek wel kon beheer, was om in die oggende op te staan, vir myself in die spieël te kyk en te waardeer dat ek gelukkig is. Om gelukkig op te staan, is die grootste seëning.”

Ligte, kamera, aksie!

Dit was aanvanklik maar ʼn uitdaging om aan al die kameras gewoond te raak, bieg Katja, hoewel sy later geleer het om die produksiespan en hul toerusting te ignoreer.

“Dit was angswekkend. Jy is in hierdie vreemde plek, saam met mense en ʼn produksiespan wat jy nie ken nie. Dan moet jy hierdie man se asem wegslaan – met ʼn kamera wat jou dophou,” onthou sy.

As sy terugdink aan haar en Brendan se eerste soen, is sy nou nog seker daarvan dat die oomblik nie heeltemal gemaklik was met die kameras wat om die hoek geskuil het nie.

“Jy moet jouself maar verbeel dat die kameras nie daar is nie,” skerts sy.

v.l.n.r. Jonelle Spammer, Katja Pieters, Rachelle Fourie en Runet van Heerden. (Foto: Katja Pieters/Instagram)

Een van die aspekte van die program wat Katja veral geniet het, was die vriendskappe wat sy met die ander vroue gesmee het. Sy was nooit in ʼn koshuis nie, vertel sy, daarom was dit heerlik om in die oggende te kon opstaan, in ʼn vriendin se bed te klim en net lekker te lag en gesels.

Katja verwys na haarself as ʼn liefdevolle mens met ʼn passie vir mense, en om ʼn huis met ʼn klomp ander vroue te deel, was beslis so reg in haar kraal.

“Ons het net mekaar gehad, en daarvoor is ek dankbaar. Ons was mekaar se troos,” vertel sy. “Tog moes ons ook versigtig wees, ons almal is hier net vir een man.”

Dit is juis oor hierdie versigtigheid waarom Katja verkies het om nie deel te wees van enige konfliksituasies wat tussen die dames opgeduik het nie.

“Ek het dit vermy waar ek kon, ek hou nie van konflik nie. As soveel meisies saam bly, kan baie dinge gebeur. Ons raak gefrustreerd met mekaar en daar is dalk jaloesie. Ek wou egter op ʼn goeie voet met almal bly.”

Sy moes ook vrede maak met sosiale media en die impak wat die program op haar alledaagse lewe sou hê.

Die vervaardigers van die program het die vroue hierop probeer voorberei, en veral daarteen gewaarsku om nie kommentaar op sosiale media te lees nie. Sy is egter net mens, erken Katja, en die nuuskierigheid om te sien wat mense oor die program sê, borrel dikwels oor.

“Natuurlik gaan ons wil weet wat mense sê. Ek moet sê, op die oomblik is 80% van die kommentaar positief, maar daar is daardie ander 20%. Die kommentare gaan kom, maar dit gaan my nie pla nie. Ek weet wie ek is, en dit is die belangrikste.”

ʼn Volgende vlug hier, ʼn nuwe land daar

Katja ken dit goed om tyd op haar eie deur te bring, trouens sy moes dit van jongs af doen. Sy was maar sewe jaar oud toe haar ma uit die huis getrek het, en haar pa moes deur haar grootwordjare telkens vir werksdoeleindes reis. Hy bly boonop vir die afgelope vyf jaar in Kanada, met Katja en haar ouer boetie wat nou nog in hul gesinshuis in Namibië bly.

“Dit was moeilik, en beslis uitdagend, maar ek het naderhand daaraan gewoond geraak om alleen te wees.”

Sy was in ʼn Duitse skool, maar het met ʼn sterk Afrikaanse invloed grootgeword aangesien haar pa Afrikaans is. Ná skool het sy nie twee keer gedink voordat sy op ʼn vliegtuig Duitsland toe is nie. Daar het sy vir ʼn wyle gewerk om meer oor die Duitse kultuur en mense te leer.

(Foto: Katja Pieters/Instagram)

“Dit was vir my verskriklik lekker om mense te ontmoet en meer te leer oor hul tradisies en kulture. Ek was maar nog altyd reg daarvoor om nuwe avonture aan te pak.”

Dit is waarom sy reeds verskillende lande in haar lewe besoek het, onder meer Mauritius, Thailand, Switserland, Italië, Spanje, Frankryk, Oostenryk en Griekeland.

Die een grondbeginsel wat Katja nog altyd na aan haar hart gehou het, is om haarself te bly.

“Wees en bly jouself, want op die ou einde is dit hoe jy gaan uitstaan vir die regte man.”

  • Op my eish! word elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.