Coenie de Villiers terug met nog ‘stories wat saak maak’

Coenie de Villiers is die aanbieder van Stories wat saak maak (Foto: Verskaf)

Stories wat maak saak, met Coenie de Villiers as aanbieder, is ʼn goeienuusprogram wat in die eerste reeks insetsels en onderhoude oor die positiewe stories, mense en dinge van ons land gedeel het.

Dié program se derde reeks het vandeesweek afgeskop met ʼn splinternuwe stel en programformaat. Kykers kan nou uitsien na langer onderhoude met individuele gaste soos gewilde musikante, akteurs en ander bekendes.

“Alles moet strook met ons fokus op meer intense, intieme onderhoude,” verduidelik De Villiers. Die gastelys sluit onder andere Refentse, Bobby van Jaarsveld en die Afrikaanse kletsrymer Claudia Witbooi, beter bekend as Yoma, in.

“Dink Larry King met ʼn skeutjie Stories wat saak maak,” skerts De Villiers.

Elke episode bestaan uit ʼn ysbreker, oftewel ʼn “dis wat saak maak”, besonderse plekke wat gaste na aan die hart lê, ʼn blik op liefdadigheidsorganisasies en ander verdienstelike sake waarby gaste betrokke is en die vervulling wat hul daaruit put, positiewe stories wat ʼn invloed op hul lewe gehad het en ʼn kykie na hul loopbane. Elke episode sluit dan af met ’n uitnodiging aan die betrokke gas om iets, hetsy ’n verskuilde talent of ʼn gunsteling-partytjietruuk, met De Villiers te deel.

Refentse is een Coenie de Villiers gaste in die tweede reeks van Stories wat saak maak (Foto: Verskaf)

“Ons gesels tydens die ysbreker oor die gaste se gunsteling-kos, kosherinnering of gunsteling-gereg uit hul kinderjare, maar dis nie ʼn kooksegment as sodanig nie,” vertel De Villiers. “Dit gaan daaroor om gaste oor die verlede te laat praat, en vir kykers ʼn idee te gee wie hulle is en wat regtig vir hom of haar saak maak.”

In die onderhoud delf De Villiers dieper in die positiewe stories wat ʼn impak op gaste gemaak het en vind ook uit wat op die oomblik in hul lewens aan die gang is.

“Gaste gesels oor hul loopbane, van toere en nuwe albums tot huwelike, gesinne en veral hul positiewe toekomsperspektiewe,” verklap De Villiers.

Oor die slotsegment vertel De Villiers laggend dat kykers lawwe én ernstige oomblikke te wagte kan wees.

“Of dit laf is of ernstig, dit sal iets wees wat kykers nooit ooit van die gas geweet of verwag het nie,” sê hy.

Stories wat saak maak is Maandae om 18:00 op VIA, DStv kanaal 147, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.