‘Die Byl’ se Lea en Ilse-Lee: Só kruip ons in die karakters in

Ilse-Lee van Niekerk in ‘Die Byl’. (Foto: Verskaf)

Deur Ilza Roggeband

Lea Vivier en Ilse-Lee van Niekerk is twee jong aktrises wat vinnig opgang in die vermaakbedryf gemaak het. Lea was onder meer te sien in Wonderlus en Die Boekklub en Ilse-Lee in Sonskyn Beperk en Getroud met rugby. Hulle is ook te sien in Troukoors op Showmax.

In die derde en vierde episode van die nuwe reeks van Die Byl het hulle al twee ’n heel ander kant van hulle speeltalent gewys en hier was beslis geen romanse en mooi glimlaggies nie.

Hoe het julle in die karakter se kop ingekom?

Lea Vivier in ‘Die Byl’. (Foto: Verskaf)

Lea: Een van my gunsteling-aanhalings oor my beroep is Natalie Portman se “acting is the art of empathy”. Dit is hoe ek al my karakters benader – met empatie. As jy verstaan van waar jou karakter kom, hoekom hulle sekere besluite neem, wat hulle dryfkrag en innerlike waarheid is, dan is jy daar. Dan is jy in hulle kop, want jy verstaan daai persoon se bedrading, se psige.

Negentig persent van toneelspel vir rolprente en televisie is voorbereiding. Dit is hoe ek in my karakters klim. My karakter in Die Byl, Azel, was met tye baie fisiek, wat ek geniet het. Dit was vir my opwindend. Amper meer teatraal, en ek het daarna gesmag weens Covid-19 en die tekort aan teatergeleenthede tans.

Sekere van die tonele teenoor Ilse-Lee was vir my uitdagend, veral in Sondag se episode, want sy is ’n goeie vriendin en ek gee baie om vir haar, maar dit het aan die tonele en verhouding kompleksiteit verleen en daaroor kla ons akteurs nooit nie.

Ilse-Lee: Met enige karakter probeer jy verstaan hoe hulle tot op daardie punt gekom het. Met hierdie karakter het sy en Azel (Lea se karakter) geglo hulle doen die regte ding vir die groter balans. Dit is dan makliker om dit vanuit hulle perspektief te regverdig.

Sal julle graag meer sulke rolle wil speel?

Lea: Nuwe karakters is wat my opgewonde maak. Ek wil aanhou om nog uitdagende rolle te vertolk soos hierdie een. Enigiets wat ek nié ken nie, wat nie naby aan “Lea” is nie, is vir my opwindend. Die geleentheid om geheel en al in ’n nuwe psige in te klim, is my sielskos.

Ilse-Lee: Ja, natuurlik! Ek hou van sulke donker karakters. Dis fassinerend om te speel.

Ilse-Lee van Niekerk in ‘Die Byl’. (Foto: Verskaf)

Wat het eerste gekom: Die Byl of Troukoors? Het julle saam voorberei?

Lea: Nee, ons het nie saam voorberei nie. Dis vir my ’n baie persoonlike proses wanneer dit by televisie én flieks kom en elke akteur het sy of haar eie proses. Ons het wel mekaar met die oudisies gehelp en dis altyd interessant om te sien wie beland waar.

Ilse-Lee: Die Byl was eerste. Ons het toevallig saam oudisies gedoen vir al twee produksies en mekaar gehelp met self tapes (opnames wat akteurs instuur vir oudisies). Ons is in die regte lewe goeie vriendinne en dit was lekker om in al twee reekse saam met haar te speel.

Verstaan julle vroue wat wraak neem?

Lea Vivier in ‘Die Byl’. (Foto: Verskaf)

Lea: Ja, veral wat geweld teenoor vroue in ons land betref. Ek sê nie dis reg of dat ek dit goedkeur nie, vanselfsprekend, maar ek verstaan dat daar mense is wat voel niemand kom vir hulle op nie en dat hulle hulself moet verdedig. Daar is niks so erg soos om hulpeloos en uitgelewer te voel nie en dit dwing mense dikwels om drastiese stappe te doen. So, ek kan dit verstaan, ja. Mens kan ongelooflik baie verstaan wanneer jy weet die individu tree op vanuit ’n plek van pyn en seer.

Ilse-Lee: Ja, ek verstaan vroue wat wraak neem. Eintlik enigiemand, tot ’n mate. Vroue word dikwels deur die samelewing onderdruk; ek kan dus verstaan dat hulle meer tot wraak geneig is. Dit maak dit nie reg nie, maar ek kan dit verstaan.

  • Lea en Ilse-Lee is in episode drie en vier van Die Byl, seisoen 4, te sien. Episode vier word op Sondag 6 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv CatchUp beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.