‘Diepe Waters’ propvol drama, draaie en diepte

‘Diepe Waters’ propvol drama, draaie en diepte.  (Foto: verskaf)

Dramatiese onthullings, swetsende feekse en gespierde swemmers is wat op kykers in kykNET se splinternuwe telenovelle Diepe Waters wag.

Dié reeks het Maandag afgeskop en het mense skoon aan die praat.

Bekende akteurs, wat deur die jare heen hul tuiste in Suid-Afrikaanse sitkamers gevind het, spog nou met nuwe karakters, uitrustings en interessante gewoontes. Daarmee saam word kykers voorgestel aan talentvolle akteurs wat die water van die vermaakbedryf vir die eerste keer toets.

Daar wag ’n goeie balans tussen tonele wat in die ateljee en ander wat by parke, restaurante en winkelsentrums verfilm is, op kykers.

Akteurs soos Altus Theart, Werner Coetser en Stephanie Baartman se gesigte is nog vars in kykers se geheue aangesien hulle pas hul pad met Getroud met Rugby afgesluit het. Die rugbytruie was skaars opgehang nadat die sepie verlede week tot ’n einde gekom het, toe is die swembrille en -broekies al vir hul rolle in Diepe Waters gereed.

Baartman staan nou in die skoene van die vriendelike, sagmoedige Lettie Adonis, die eienaar van die plaaslike koffiewinkel. Van Bibi, haar karakter in Getroud met Rugby, se spoggerige klere, uitspattige grimering en hoë hakke is daar niks te sien nie.

Coetser, in die rol van Gys Swarts, die patriarg van Diepe Waters, se seun, Jacques, het hom tuisgemaak in die rol van die vriendelike, aanmoedigende swemafrigter by wie die jong swemmers by die klub aanklank vind.

Aktrises soos Nadia Valvekens en Sandi Schultz, wat onder kykers as die sagmoedige Pippa Venter en rustige Jennifer Adams van Binnelanders bekend staan, is voëls van ander vere in dié nuwe reeks. Kykers kan uitsien na dié twee aktrises wat die wêreld van ’n feeks ontdek.

Met die intrapslag takel die telenovelle ernstige probleme wat dikwels in huise landwyd, indien nie wêreldwyd nie, kop uitsteek. Die kykers gaan geboei toekyk hoe bekende probleme, waarmee hulle dalk self al te doen gekry het, in Diepe Waters afspeel.

Die reeks laat ook die kollig val op hoe ouers en kinders die wêreld trotseer, en bied die kyker die geleentheid om hul eie ouer-kind-verhoudings op die skerm waar te neem.

Diepe Waters bestaan uit ’n knippie werklikheid, ’n vragvol drama en ’n storielyn wat kykers behoorlik geboei sal hou.

  • Skakel Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, in om Diepe Waters te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AndrewL ·

Die eerste twee episodes is maar bra vervelig met gemiddelde to selfs ondergemiddelde toneelspel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.