Dinge raak ernstig in ‘Op my eish! 2’

Francois het in Donderdaag se episode van ‘Op my eish! 2’ vir Juané huis toe gestuur. (Foto: Verskaf)

Al probeer Francois en die oorblywende deelnemers in Op my eish! 2­ om nie daaraan te dink nie, is die werklikheid dat daar aan die einde van die program net een vrou aan Francois se sy kan wees.

En dit gaan ongelukkig nie die 26-jarige Juané wees nie, aangesien Francois haar in Donderdagaand se episode gevra het om haar tasse te pak.

Francois was ooglopend emosioneel en Schalk het, terwyl hy en Francois vroeër alleen gesit en gesels het, vir hom ʼn oomblik gegee om sy gedagtes en emosies onder beheer te kry.

Dit het alles uitgespeel nadat Ceylonia, Claudia, Juané, Nykie en Leyla ʼn voorsmakie gekry het van hoe ʼn moontlike lewe in die kollig sal wees tydens die Op my eish! 2-mediakonferensie.

Gaan Kupido se boog miskien dalk vir Leyla, Claudia of Nykie tref? (Foto: kykNET)

ʼn Paar joernaliste het die geleentheid gehad om nie net vir die topvyf nie, maar sommer vir Francois en Schalk ook te peper met ʼn paar vrae.

Toe Francois ná die konferensie vir Juané vra vir alleentyd saam met hom, het sy geweet dat die oomblik waarvoor almal vrees, vir haar ook aangebreek het.

“Toe Francois sê hy wil met my praat, het ek geweet wat kom, en ek was oukei daarmee. Op al die ander dates was ek baie gestres gewees en het net heeltyd gebid en gehoop ek gaan nie huis toe nie.

“Maar om die een of ander rede was ek daardie dag baie kalm en rustig. Ek dink in daai oomblik het ek net geweet dat as dit die man vir my is, sal dit uitwerk soos dit moet,” vertel Juané aan Maroela Media.

Juané, wat aan ‘Op my eish!’ se tweede seisoen deelgeneem het. (Foto: Verskaf)

Die Op my eish! 2-ervaring het haar tot die besef gebring dat om ʼn kans op liefde te waag, tog die moeite werd is.

“Ek het agtergekom dat die mure om my hart baie hoër gebou is as wat ek gedink het. Die soeke na liefde is eintlik ʼn groot avontuur en mens weet nie altyd wat aan die ander kant vir jou wag nie.

“Ek het ook geleer dat ek baie sterker is as wat ek vir myself erkenning gee en dat sterk vroue mekaar opbou, nie afbreek nie. Al beteken dit dat ons met dieselfde doel daar is.”

Skakel volgende Donderdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal) in vir die voorlaaste episode van Op my eish! 2. Francois neem vir Ceylonia, Claudia, Nykie en Leyla elkeen op ʼn laaste romantiese afspraak en kykers sal moet wag en sien of nog ʼn deelnemer huis toe gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronel ·

Die eerste keer wat ek haar op die program gesien het, het ek gewonder wat op dees aarde maak hierdie mooi meisie op so ‘n program. My hart was seer dat sy uitgestem is maar ook verlig omdat ek dink sy soveel beter kan doen. Sys mooi, slim en baie volwasse vir haar ouderdom. Sy gaan nog haar groot liefde ontmoet en dink ek nie sy is die tipe meisie wat so in die kollig hoort nie. Ek dink daar is min meisies van haar ouderdom met sulke mooi waardes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.