‘Friends’ se Gunther onthul hy het kanker

James Michael Tyler in 2013. (Foto: Giulio Marcocchi/Getty Images via AFP)

James Michael Tyler, die akteur wat die rol vertolk het van Gunther die kelner in Central Perk, die plek waar die groep vriende in die sitkom Friends uitgehang het, het aangekondig dat hy fase 4 prostaatkanker het.

Die 59-jarige akteur het in ʼn onderhoud met NBC se Today Show gesê hy is in September 2018 ná ʼn roetine-ondersoek by die dokter gediagnoseer.

Die kanker het sedertdien versprei na sy bene en hy kan nie meer loop nie. Hy ontvang tans chemoterapie.

“Uiteindelik, jy weet, gaan dit my waarskynlik inhaal,” het hy aan aanbieder Craig Melvin gesê.

Oor sy diagnose het hy gesê: “Ek was 56 jaar oud en hulle het ʼn toets gedoen vir ʼn PSA, wat ʼn prostaat-spesifieke antigeen is.

“Dit het teruggekom met ʼn uitermatige hoë syfer, so ek het dadelik geweet toe ek aanlyn na my bloeduitslae kyk dat daar iets fout was.”

Hy het vertel die dokter het hom bykans dadelik geskakel en gevra om hom te kom sien. “Hy het my gebel en gesê: ‘Haai, jy moet môre inkom na my spreekkamer toe, want ek vermoed daar is iets ernstig fout met jou prostaat.”

Nadat hy nog ʼn toets gemis het weens die pandemie, het die kanker na sy bene versprei en is die kanker nou in fase 4.

Hy het die onderhoud gebruik om mans aan te raai om gereeld vir ondersoeke te gaan.

Gunther

James Michael Tyler op ‘n nagemaakte stel van ‘Friends’ in New York in 2014. (Foto: Timothy A. Clary/AFP)

Hoewel hy nie ewe veel skermtyd as die ses hoofkarakters in Friends gekry het nie, bly Gunther ʼn gewilde figuur onder aanhangers van dié reeks.

Gunther het as kelner en bestuurder van die koffiewinkel, Central Perk, gewerk en het regdeur die reeks ʼn ogie op Rachel, vertolk deur Jennifer Aniston, gehad.

Tyler het verlede maand ʼn vinnige verskyning in die Friends-reünie gemaak via Zoom. “Dit was die onvergeetlikste tien jaar van my lewe, eerlikwaar,” het Tyler oor die reeks gesê.

“Ek sou my nie ʼn beter ervaring kon indink nie. Al hierdie ouens was fantasties en ʼn vreugde om mee saam te werk. Dit het baie, baie spesiaal gevoel.”

Hy wou egter nie sy kankerdiagnose tydens die reünie bekend maak nie, sê hy. “Ek wou nie hê dit moes wees soos ‘o, terloops, Gunther het kanker’ nie.”

Hy het bygevoeg die ander akteurs het geweet van sy diagnose. “David Schwimmer [wat die rol van Ross Geller vertolk] het met my gekommunikeer via Instagram. Die vervaardigers is ook bewus daarvan, en is al geruime tyd bewus.”

Tyler is in 2012 met sy Friends-medester Matt LeBlanc herenig in ʼn episode van die BBC-sitkom Episodes, waarin hy die rol van ʼn hokkieafrigter vertolk.

Hy het ook rolle gehad in die rolprente The Disturbance at Dinner, Foreign Correspondents, Motel Blue en Jason’s Big Problem.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.