‘GMR’-paartjie verloof

David Louw het vir Christel van den Bergh die ja-woord gevra. (Foto: Instagram/David Louw)

Die akteurspaar Christel van den Bergh en David Louw, onderskeidelik bekend vir hulle rolle as die paartjie Simon en Renate Greeff in die kykNET-sepie Getroud met rugby, het Donderdag verloof geraak.

Louw het Donderdag ʼn foto, waar hy op een knie neergesak het om die jawoord te vra, op Instagram gedeel. Dit is duidelik aan Van den Bergh se gesig op die foto dat sy onkant betrap is deur die groot vraag.

Van den Bergh het om die beurt op Instagram geskryf: “Die klein hunchback’kie het ja gesê … [sic].” Dié grap sinspeel op haar gebuigde rug in die verlowingsfoto’s wat sy op haar eie Instagram-profiel gedeel het.

Die paartjie het einde Maart ʼn pienkvoet ryker geword. Die babaseuntjie heet Daniël David en is op 27 Maart gebore.

Van den Bergh en Louw speel al ʼn geruime tyd ʼn egpaar, wat geskei en weer bymekaargekom het, in die sepie. Die swangerskap is deel van die storielyn gemaak.

Christel van den Bergh en David Louw is verloof. (Foto: Instagram/Christel van den Bergh)

Van den Bergh en Louw het vroeër vanjaar bevestig dat hulle ook ʼn paartjie in die werklikheid is.

Talle bekendes het die paartjie gelukgewens met hulle verlowing. “Amper huil ek weer,” het die sangeres Demi Lee Moore geskryf.

“Baie geluk. Tonne seën wens ons julle toe,” het aktrise Sandra Vaughn geskryf.

Die span van Getroud met rugby het ook die paartjie gelukgewens. “Baie, baie, baie geluk, julle! Ons is verskriklik bly en opgewonde saam met julle.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.