Grapjas-akteur Bennie Fourie oor rol in ‘Fynskrif’

Bennie Fourie vertolk die rol van Burger Gouws in ‘Fynskrif’. (Foto: Verskaf)

Die akteur en skrywer Bennie Fourie het as aanbieder van die Fiësta-toekennings ʼn grap op die verhoog gemaak wat hom uiteindelik ʼn rol in die gewilde kykNET-dramareeks Fynskrif besorg het.

Só vertel hy in ʼn telefoniese onderhoud met Maroela Media vanuit Wakkerstroom, waar hy die afgelope drie weke van die algehele afsonderingstydperk deurgebring het. Hy sluit hom in die tweede episode by die derde seisoen van dié regsdrama, wat Dinsdag weer op kykNET begin draai het, aan.

Albert Snyman, medeskrywer en vervaardiger van die reeks, was daardie aand in die gehoor. “Ek het gesê ek is een van die enigste akteurs wat ʼn regsgraad het, maar nie ʼn rol in Fynskrif nie,” lag Fourie, wat grade in die regte en onderwys verwerf het aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

“Albert het my ʼn rukkie daarna gebel en gesê my skimp het gewerk.” Louis Pretorius is Snyman se medeskrywer. Hulle is ook die skrywers van die uiters gewilde dramareeks Die Boekklub.

Fourie was onlangs op die grootskerm te sien in die hoofrol in die rolprent Ander Mens, is onder meer medeskrywer van die kykNET-komediereeks Hotel en is in die sketskomedieproduksie Die Intermissie te sien.

Hy beskryf sy karakter in Fynskrif as “pret, maar ook hartseer”.“Burger Gouws en sy vrou gaan deur diep waters. Hy is sinies en sarkasties, maar ondanks sy siniese kant, wil hy ʼn goeie mens wees en het hy ʼn ware noord in hom.”

Fourie het reeds as Burger Gouws in die vorige seisoen verskyn, waar kykers gesien het hoe hy vir Katrien, vertolk deur Cintaine Schutte, ʼn pos by die staatsaanklaerskantoor aanbied.

Bennie Fourie en Cintaine Schutte in ‘n toneel uit ‘Fynskrif’.

Ander bekende akteurs soos Tinarie van Wyk Loots, Neels van Jaarsveld, Luan Jacobs, Lea Vivier, Christia Visser, Beer Adriaanse en Rolanda Marais is saam met veterane soos Chris van Niekerk en Susanne Beyers in die reeks te sien.

Hannes van Wyk , Annelize van der Ryst, Pierre van Pletzen, Veronique Jefthas, Erica Wessels, Trix Vivier, Martelise Kolver, Laudo Liebenberg, Gerben Kamper en Melt Seiberhagen maak ook ʼn draai in die reeks as gasspelers.

Volgens Fourie was dit ʼn voorreg om saam met soveel groot name in die vermaakbedryf te werk. “Dit was senutergend om op die stel te wees saam met mense soos Tinarie – hulle is régte akteurs,” skerts hy.

Hy skryf die gewildheid van die reeks aan Pretorius en Snyman se skryfwerk toe. “Louis en Albert is ongelooflike skrywers. Fynskrif is ʼn vermenging van ʼn boeiende storielyn wat tegnies goed ondersoek is en boeiende regsvrae vra, verweef met intense familiedrama.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.