‘Hannah Montana’-akteur in die sop

Musso se gesigfoto (“mugshot”). (Foto: X/The New York Post)

Die voormalige Disney Channel-akteur, Mitchel Musso, is Saterdag in Texas in die VSA op verskeie aanklagtes, insluitend openbare dronkenskap, in hegtenis geneem.

Die 32-jarige het die karakter van Oliver Oken tussen 2006 en 2011 teenoor Miley Cyrus in die televisiereeks Hannah Montana vertolk.

Fox News berig dat Musso volgens die Rockwall-polisiedepartement van vyf oortredings, wat spruit uit ‘n voorval by ‘n hotel in Texas ná 19:00 die aand, aangekla is.

Hy het na bewering ʼn hotel binnegegaan terwyl hy onder die invloed van alkohol was, waarna hy ʼn pakkie skyfies uit die hotelwinkel geneem en begin eet het.

Luidens ʼn verklaring wat aan Fox verskaf is, het Musso geweier om vir die skyfies te betaal en verbaal beledigend teenoor die hotelpersoneel geraak.

Mitchel Musso. (Foto: Facebook/Mitchel Musso)

Polisiebeamptes het Musso buite die hotel aangekeer en vir openbare dronkenskap en diefstal in hegtenis geneem. Die polisie het ná sy inhegtenisneming ontdek dat die akteur verskeie uitstaande lasbriewe vir verkeersboetes het, aldus die New York Post.

Hy het een nag in die Rockwall County-aanhoudingsentrum deurgebring en is Sondagmiddag op borgtog vrygelaat.

Owerhede het ʼn gesigfoto (“mugshot”) van Musso uitgereik waarin hy terneergedruk lyk en met ‘n handdoek oor sy bors poseer.

Die akteur het nog nie kommentaar oor die voorval gelewer nie.

Bronne: Fox News Digital, New York Post.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sê maar net ·

Meeste Hollywood akteurs lei aan depressie en gebruik drank, dwelms ens om van donker dinge, stres en skandes in hul lewe weg te vlug. Dan tree hulle onverantwoordelik op en beland in die moeilikheid. So bly ek lewe nie in daai wêreld nie….. net genade van Bó. Dankie Vader.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.