Hier is Brendan Peyper se vlerksleepvriend in ‘Op my eish!’

Jo Black is aangewys as Brendan Peyper se vlerksleepvriend. (Foto: verskaf)

Vir elke enkellopende is daar ’n vlerksleepvriend om hom in die proses van liefde vind by te staan, en vir Brendan Peyper is dié vriend die rasperstemsanger, Jo Black.

Dit is vroeër vandeesmaand bekendgemaak dat Brendan (27) sy soeke na liefde op kykNET se maatsoekprogram, Op my Eish!, gaan voortsit. Net soos Schalk Bezuidenhout die pad saam met Francois Jacobs in die laaste seisoen gestap het, sal Jo die pad saam met Brendan stap.

Jo (41) beplan om dié proses met objektiwiteit, betroubaarheid en lojaliteit teenoor Brendan aan te pak.

“Die feit is dat ons goeie vriende is en die vrymoedigheid het van ’n pa-en-seun verhouding,” sê Jo oor die nuwe skoene wat hy volstaan.

“Omdat ek self in die musiekbedryf werk, is dit makliker om hom in ’n positiewe rigting te stuur en sy voete op die grond te hou. Weens ons oop verhouding, gaan hy dit ook makliker op die ken vat.”

Volgens Jaco Spies, die regisseur van die reeks, is Jo die ideale kandidaat vir ’n vlerksleepvriend, juis omdat hy reeds getroud is en sal weet hoe Brendan se ideale pasmaat lyk.

(Foto: verskaf)

“Ek glo Jo gaan vir Brendan ’n anker wees. Dit lyk na pret om die vrygesel op so ’n werklikheidsreeks te wees, maar dit is dikwels moeilik en kan ingewikkeld raak wanneer Brendan een van die vroue moet huis toe stuur,” sê Jaco.

“Jo se charisma en gemaklike persoonlikheid is beslis ’n aanwins vir die reeks.”

Jo hoop dat Brendan ware liefde sal vind.

“Ek weet wat dit beteken om ’n goeie vrou te hê, veral in hierdie industrie. As kunstenaar, kry die wêreld altyd die beste van jou, maar jy kort iemand wat die stukke kan optel wanneer jy self op die vloer is,” sê Jo.

“Ek sien uit om te sien of iemand dit regkry om Brendan se voete onder hom uit te slaan. Hopelik kry ons die kans om een van die mooiste liefdesverhale te sien ontvou,” sê hy.

Is jy dalk die vrou vir wie Brendan nog altyd wag?

Om in te skryf, besoek hierdie webwerf.

Onthou om die volgende gereed te hê voordat jy met die inskryfproses begin:

  1. Twee onlangse kleurfoto’s van jouself – een kop-en-skouers en een vollengte.
  2. ’n Afskrif van jou ID-dokument om te wys dat jy ouer as 21 jaar oud is.
  3. Neem ook ’n kort video van jouself waarin jy jouself beskryf. Vertel meer oor jou familie, vriende, hoekom jy dink Brendan is die man van jou drome en wat jy uit ’n verhouding verwag. Die video moet opwindend, maar onder twee minute lank wees en daar moet geen musiek gebruik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

S ·

Met die twee “gentlemen” sal die program verseker van hoë standaard en die kyk werd wees en ek glo slegs meisies met goeie waardes sal gekies word. (Die vorige seisoen was soms bietjie rof, alhoewel dit steeds gesorg het vir vermaak en ‘n gelukkige einde en storie vir Nykie en Francois)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.