Hollywood: Netflix in die sop oor reeks; Britney wys Oprah-aanbod van die hand

KJ Apa. (Foto: Michael Loccisano/Getty Images/AFP)

Maroela Media bied vir jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

‘Riverdale’-ster nou Samoaanse hoofman

KJ Apa wat oorspronklik bekendheid vir sy rol in die reeks Riverdale verwerf het, is nou ’n amptelike Samoaanse hoofman.

Die 25-jarige Apa het Donderdag die hooftitel van matai tydens ’n tradisionele seremonie in sy dorpie, Moata’a, in Nieu-Seeland ontvang.

Apa, wat in Auckland gebore is, se pa is ’n Samoaanse hoofman in Nieu-Seeland terwyl se ma ’n Nieu-Seelander van Europese afkoms is.

Die Riverdale-ster, wie se regte naam Keneti James is, het dié nuwe titel op Instagram met sy miljoene volgelinge gedeel.

“My doelwit is om my familie en my dorpie te dien. Dankie God.”

Britney Spears sê nee dankie vir Oprah

In ’n halfuur lange YouTube-video, wat intussen weer verwyder is, het die popsangeres Britney Spears vertel dat sy ’n onderhoudaanbod van Oprah Winfrey van die hand gewys het.

Britney Spears. (Foto: Facebook)

Sy het in die video ook verklap dat sy munt kon slaan uit dié onderhoud, maar dat sy verkies het om haar storie op ’n platform soos YouTube te vertel waar sy nie ingeperk sou word nie.

Spears, wat onlangs ’n enkelsnit saam met Elton John uitgereik het, het in dié video ook teen haar familie en langdurige voogdyskap uitgevaar.

“Hulle het my doodgemaak en weggegooi,” het sy gedeel.

“Ek het snags in Vegas voor duisende mense opgetree, die gejaag om ’n kunstenaar te wees, die gelag, die respek… ek was ’n masjien, amper nie eers mens nie. Dit was kranksinnig.”

Netflix in die moeilikheid oor ‘Inventing Anna’

Die stromingsreus Netflix is deur Rachel DeLoache Williams gedagvaar oor hoe sy in die trefferreeks Inventing Anna vertolk is.

(Foto: Shondaland)

Dié reeks het oor die swendelaar Anna Sorokin oftewel Anna Delvey, en haar misdade gehandel.

Sorokin het met die naam Anna Delvey vriende, sowel as banke en hotelle bedrieg met haar fopstorie dat sy ’n ryk erfgenaam is. Sy is later skuldig bevind op drie aanklagte van diefstal en een van poging tot diefstal en is in 2019 tronk toe gestuur.

Williams was ’n redakteur by die Vanity Fair-tydskrif toe sy Sorokin in 2016 ontmoet het. Sy het later ’n treffende opstel, My Friend Anna, vir dié tydskrif geskryf wat later opgevolg is met ’n boek met dieselfde titel.

In die geding teen Netflix beweer Williams dat die stromingsdiens “vir dramatiese doeleindes ’n doelbewuste besluit geneem het om te wys hoe Williams dinge in die reeks doen of sê wat haar uitbeeld as ’n gulsige, snobistiese, dislojale, oneerlike, laghartige, manipulerende en opportunistiese mens”.

One Direction-ster beplan nuwe album

Louis Tomlinson se tweede vollengte solo-album word op 11 November vanjaar uitgereik.

Tomlinson, wat tans met ’n wêreldtoer besig is, se album Faith in the Future het in die grendeltydperk sy oorsprong gehad.

Louis Tomlinson. (Foto: Juan Pablo Pino/AFP)

Die 30-jarige sanger het aan die nuuswebwerf Official Charts vertel dat hy reeds op die titel van die album besluit het lank voordat daar enige musiek uit sy pen gevloei het.

Hy het ook gesê dat hy tydens die skryfproses gevoel het dat hy vry is en dat hy sy kreatiwiteit sonder grense kon inspan.

“Die ervaring om in ’n musiekgroep soos One Direction te wees was ongelooflik, maar dit het nie enige invloed op waarmee ek nou besig is nie.

“Ons het die groep verlaat met hierdie idee van wie ons is, maar dit was bloot net ’n lid van ’n musiekgroep. Ek was nie ’n individuele kunstenaar nie. Ek moes uitwerk of ek bereid was om dapper genoeg te wees om individuele werk aan te pak. Dit is wat ek met dié album gedoen het.”

Twitter toets redigeerfunksie

Twitter het Donderdag amptelik begin om ’n redigeerfunksie te toets.

(Foto: @Twitter/Twitter)

Die toetslopie van die funksie “Edit Tweet” sal by interne werknemers begin en dan uitgebrei word na die platform se “Twitter Blue”-intekenaarsgroep.

“Edit Tweet is ’n funksie wat mense in staat stel om veranderinge aan hul twiets te maak nadat dit geplaas is.

“Dink daaraan as ’n kort tydjie om dinge soos tikfoute reg te stel, goed by te voeg, en so meer, ” het Twitter op sy blog gesê.

Die platform het verder verduidelik dat dié funksie tydsgebonde is, en dat Twitter-plasings slegs in die 30 minute nadat dit geplaas is gewysig kan word.

Bronne: Independent, CBS News, Rolling Stone, Official Charts

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.