Hollywood: R. Kelly verloof, die Kardashians keer weer kassie toe

R Kelly. (Foto: Nuccio Dinuzzo/Getty Images North America/AFP)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

R. Kelly verloof

In ’n brief aan ’n regter het die sangeres Jocelyn Savage bevestig dat sy en die R&B-sanger, R. Kelly, verloof is.

Die “I believe I can fly”-sanger is in September op nege aanklagte, waaronder rampokkery en sekshandel, skuldig bevind.

Kelly is op 29 Junie tot 30 jaar tronkstraf opgelê, twee weke nadat Savage die brief gestuur het.

In die brief verduidelik sy dat sy nie een van Kelly se slagoffers was nie. Sy het ook gevra vir ’n ligter straf vir Kelly en verduidelik dat hulle verhouding “ongelooflk” is.

“Ons het ’n besonderse band en is verlief. Robert is nie die monster wat die regering hom uitgemaak het om te wees nie. Die Robert wat ek ken, is baie sag, oulik en goedhartig.”

Sy het ook verduidelik dat sy ’n volwasse vrou is en vir haar regte kan opstaan.

“[Kelly] is ’n goeie man en verdien om by die huis by sy geliefdes te wees.”

Die Kardashians terug vir tweede seisoen

Die gewilde glansfamilie, die Kardashians, se Hulu-dokumentêrreeks sal in September weer op die kassie wees.

v.l.n.r. Kris Jenner, Kourtney Kardashian-Barker, Khloe Kardashian en Kim Kardashian. (Foto: Jean-Baptiste Lacroix /AFP)

In dié voorskou wat die week van die nuwe seisoen uitgereik is, blyk dit dat Kim Kardashian se komediantkêrel, Pete Davidson, ook sy eerste verskyning in die reeks gaan maak.

Kykers kan ook uitsien na ’n glansgeleentheid wat gehou is tydens Kourtney Kardashian en Travis Barker se derde troue.

’n Verteenwoordiger van die familie het ook onlangs bevestig dat Khloe Kardashian ’n tweede baba saam met haar ekskêrel, Tristan Thompson, via ’n surrogaat verwag.

Adele se One Night Only kry vyf Emmy-benoeminge

Ná die uitreiking van haar vierde album, 30, het die gewilde sangeres, Adele, ’n spesiale eenmalige konsertuitsending gehad wat op CBS uitgesaai is.

Dié uitsending het gewys hoe die sangeres verskeie nuwe liedjies aan ’n gehoor propvol bekende gesigte voorstel.

Adele One Night Only het ook ’n ernstige indiepte-onderhoud met die veteraan-televisieaanbieder, Oprah Winfrey, ingesluit.

Dié eenmalige uitsending spog nou met ’n volle vyf Emmy-nominasies.

BTS binnekort op TV te sien

Die immergewilde Koreaanse musiekgroep, BTS, vat hande met Disney vir talle komende opwindende projekte.

Die Koreaanse popgroep BTS op die verhoog. (Foto: Theo Wargo/Getty Images for The Recording Academy/AFP)

Die Walt Disney Company en BTS se ateljeehuis, Hybe, het Dinsdag 12 Julie ’n nuwe wêreldwye inhoudvennootskap onthul. Die ondernemings gaan saamwerk om vyf stromingstitels te vervaardig, waaronder drie eksklusiewe projekte met BTS of BTS-lede.

“Ons is verheug om saam met Hybe te werk om oorspronklike inhoud wat met kragtige kunstenaar-IP geskep is op ons wêreldwye stroomdienste, insluitend Disney+, ten toon te stel,” het Jessica Cam-Engle, Disney se APAC-inhoudshoof, gesê.

Park Ji-won, die uitvoerende hoof van Hybe, is opgewonde oor die projek en beoog ’n langtermyn-samewerking met Disney.

Ozzy en Sharon Osbourne verkoop reusehuis

Met die beplande terugkeer na Engeland is die huis wat Ozzy en Sharon Osbourne in 2015 gekoop het weer in die mark.

Die koper, wat die huis wat in die 1920’s gebou is, wil aanskaf, gaan $18 miljoen (sowat R307 miljoen) daarvoor moet opdok.

Gedurende die jare wat hulle in die spoghuis gebly het, het Sharon en Ozzy verskeie verbeterings aan die woning aangebring.

Ozzy Osbourne en sy vrou Sharon tydens 2020 se Grammy-toekennings. (Foto: Instagram)

Die ses-slaapkamer-, nege-badkamer-woning sluit ook ’n rolprentteater, groot groen grasperke en ’n reuseswembad in.

Dié egpaar het nog niks gesê vandat die huis te koop aangebied is nie. Ozzy het egter in Maart aan die Mirror verklap dat hy dit oorweeg om terug te trek Engeland toe.

“Ons gaan Los Angeles verlaat. Ons is nogal hartseer, maar die belasting word net te veel. Ek is hartseer, want ek het regtig baie daarvan gehou om daar te bly.”

Elizabeth Holmes se eks skuldig aan Theranos-bedrog

Die voormalige kêrel van die gevalle Theranos-stigter, Elizabeth Holmes, is Donderdag skuldig bevind aan die bedrog van beleggers en pasiënte met die mislukte bloedtoetsstelsel wat Theranos ontwerp het.

Elizabeth Holmes, voormalige uitvoerende hoof van Theranos (17 Julie 2019) (Foto: Kimberly White/Getty Images/AFP)

Jurielede het Ramesh “Sunny” Balwani skuldig bevind op al 12 bedrogaanklagte. Hy word in November vanjaar gevonnis en sal moontlike tronkstraf en hewige boetes vir sy betrokkenheid by die bedrogspul die hoof moet bied.

Balwani is afsonderlik van Holmes, die voormalige Amerikaanse biotegnologiester, verhoor. Holmes se verhoor het in daardie einste Kaliforniese hofsaal in Januarie geëindig, met skuldigbevindings op vier aanklagte van misleiding van beleggers.

Holmes kan ook moontlike tronkstraf verwag en word in September vanjaar gevonnis.

Tydens haar verhoor het sy beweer dat Balwani fisiek en emosioneel gewelddadig teenoor haar was en dat hy die leierfiguur in die Theranos-skandaal was. Hy het egter sedertdien dié beweringe teengestaan.

Balwani, wat amper twee dekades ouer as Holmes is, het by Theranos betrokke geraak toe hy genader is om die onderneming wat sy in 2003 as 19-jarige begin het, te bestuur.

Die onderneming het talle beleggers om die bos gelei met dié dat hulle geld belê het in die bloedtoetsstelsel wat toe nooit gedoen het wat Holmes belowe het dit sal doen nie.

Theranos is begin met die idee dat dié stelsel met ’n druppel bloed talle kwale en siektes sou kon diagnoseer.

Holmes, nou 38, het volgehou dat die stelsel revolusionêr in die mediese veld is, ’n bewering wat intussen verpletter is deur die bedrogaanklagte wat bly instroom het.

Bronne: Billboard, Hollywood Life, E! News, Vulture

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.