Jong Zandélle wys haar slag voor kameras

Zandélle Meyer vertolk die rol van die onskuldige Veroné Momberg in “Suidooster”. (Foto: kykNET)

Deur Martjie Roos

“Daar is baie jong meisies wat met Veroné kan identifiseer,” gesels Zandélle Meyer (23) oor haar rol in die sepie Suidooster. Sy vertolk die rol van die jong, skaam Veroné Momberg wat van Mariental in Namibië afkomstig is. Veroné is verloof aan ʼn boer Jabes (Hendri Mouton) in Mariental en kom kuier vir haar tannie Elana (Esther von Waltsleben) in die Kaap om troureëlings te tref, maar verloor dan haar hart op die hartebreker Justin (Eden Classens).

“Sy word oorweldig deur die stad en Justin slaan haar voete onder haar uit, want hy verteenwoordig vir haar avontuurlustigheid. Haar verloofde Jabes is baie anders as die ekstrovert Justin, Jabes is saggeaard en sensitief,” sê sy.

Om haar karakter te vertolk het sy voor verfilming ʼn bietjie oor Namibië en Mariental gaan oplees. “Mariental is ʼn baie klein dorpie. Ek dink meisies van ʼn klein dorpie, wat na ʼn groot stad soos Kaapstad trek, word dikwels net heeltemal deur alles oorweldig.”

Hoe hierdie liefdesdriehoek uiteindelik gaan ontvou, wil sy nie nou al verklap nie. “Veroné kom uit ʼn konserwatiewe huis en sy voel skuldig omdat sy haar verloofde met Justin verkul.”

Veroné en Justin het heelwat soentonele en die soenery het haar aanvanklik laat bloos. “Die filmspan kon lekker grappies maak wanneer ek en Eden moes soen, maar deur die proses het ek besef dat as ek nie gemaklik daarmee is nie, gaan dit ook nie so op skerm vertoon nie.”

Dit is Zandélle, wat van Potchefstroom na Stellenbosch toe verhuis het om drama te studeer, se tweede sepierol. Sy het vroeër vanjaar haar TV-vuurdoop in Binnelanders as die karakter Riekie Louw gemaak. Riekie, dr. Henry Louw (Francois Lensley) se dogter, het aanvanklik gelyk of botter nie in haar mond kan smelt nie. Sy was egter toe inderdaad nie wat sy voorgegee het om te wees nie en wou haar pa se verpleegster-meisie Rita (Ilana Cilliers) laat boet vir haar vorige sondes en haar skuldig laat lyk. Riekie het van die pasiënte in Binneland-kliniek se IV-sakkies met ʼn oordosis Digoxin gevul en twee pasiënte het vanweë die oordosis gesterf. Haar pa was die een wat haar op die ou einde ontmasker het en Riekie het agter tralies beland.

Suidooster

(Foto: kykNET)

“Dit was ʼn uitdaging om Riekie te speel omdat haar persoonlikheid multidimensioneel was. Aan die anderkant was dit net so lekker vir my om Veroné te vertolk. Omdat ek Veroné langer as Riekie gespeel het, het ek genoeg tyd gehad om haar karakter te ontgin.”

Zandélle wou aan die begin van die jaar, na afloop van haar dramastudies, haar honneurs in kabaret studeer, maar toe sy die rol van Riekie in Binnelanders gekry het, het sy besluit om vanjaar deeltyds ʼn diploma in musiek deur Trinity Kollege te studeer. “Ek hou baie van musiekteater maar wil in die toekoms my eintlik op kabaret toespits,” sê die veelsydige aktrise. Sy is juis van 7 tot 9 Desember te sien in die opvoedkundige musiekblyspel 42nd to Broadway, waarin sy die rol van die jazz-sangeres Ethel Merman, wat op haar beurt verskillende karakters speel, vertolk. Teatergangers gaan haar sien sing en dans in die musiekblyspel wat in Bellville by die Collective Arts Theatre debuteer.

(Foto: kykNET)

Sy is ook te sien in die nuwe Showmax-reeks, Trompoppies, waarin sy die rol van ʼn trompoppie Chandré speel. “Chandré is die onderkaptein van die trompoppies en sy leef in die skadu van Mindi (Elzet Nel, wat die rol van Killer in die rolprent Vaselinetjie gespeel het). Vir die rol moes ek leer om soos ʼn trompoppie te loop en al die roetines onder die knie kry.”

Die meeste van die tonele is in die Wes-Kaap verfilm en die trompoppies van Hottentots Holland Hoërskool in Somerset-Wes maak ook hul verskyning daarin. Buiten jong talent soos Melissa Myburgh (wat in die kykNET-reeks Dinge van ʼn kind gespeel het en as Luna Verwey gesien kan word) en Jane de Wet (Adri van Tonder in Spoorloos) kan ʼn rits gesoute akteurs soos Marion Holm, Stian Bam, Albert Maritz, Frank Opperman, Daneel van der Walt en Armand Aucamp ook in die raaiselreeks gesien word.

Wat toekomstige rolle betref, sal sy graag aksiebelaaide rolle soos Jane Smith (Angelina Jolie) in die rolprent Mr and Mrs Smith wil speel. “Tog hou ek daarvan om Afrikaanse stories te vertel.”

Haar kêrel, Damian de Villiers, is ook ʼn akteur en het vanjaar al op die verhoog in produksies soos Afval verskyn. “Hy werk ook dikwels agter die skerms en ondersteun my baie in my loopbaan.”

Sy is self besig om haar talente agter die skerms te slyp en skryf en doen die regie van ʼn nuwe rolprent wat in 2024 by die Silwerskermfees gaan debuteer.

Suidooster

(Foto: kykNET)

Zandélle het al verskeie lesse tydens haar kort rukkie in die bedryf geleer. “Ek het onder meer geleer dat ek soms my eie grootste vyand kan wees en dat ek op stel moet doen wat vir my werk, eg oorkom en op die storie moet fokus. “

Hou die blondekop maar dop, want sonder twyfel wink daar ʼn blink toekoms vir hierdie jong aktrise.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.