Kate Bush weer boaan trefferlys danksy Netflix-reeks

‘n Skermgreep uit Kate Bush se musiekvideo.

Aanhangers van die 80’s se musiek kan gerus hul Walkman-kassetspeler uit die stoor gaan haal, van die spinnerakke ontslae raak en heerlik nostalgies raak oor ’n trefferlied uit dié era wat onlangs opnuut die kollig geniet.

Nie net het die vierde seisoen van die Netflix-trefferreeks, Stranger Things, die wêreld aan die gons gesit nie, dit het ook die kollig op die 80’s-popster, Kate Bush, se liedjie “Running up that Hill” geplaas.

Dié liedjie, wat in 1985 reeds die klankgolwe getref het, het in ’n episode van Stranger Things gespeel. Of dit nou die ouer garde is wat nostalgies daaroor geraak het, en of dit die jonger generasie is wat nuwe musiek ontdek het, dié lied het tot boaan die trefferlyste as gevolg hiervan geklim.

“Running up that Hill” het pas verlede week die popster Harry Styles se enkelsnit “As it Was” op die UK Singles Chart onttroon.

Dit is ook nou vierde op die Billboard Hot 100-trefferlys, ’n nuutjie vir dié 37 jaar oue snit. Met die liedjie se aanvanklike uitreiking in 1985 het dit nie hoër as die 30ste plek op dié lys gehaal nie.

Op Apple se Top 100: Global is die liedjie tans in die 14de posisie en op Spotify is dit kort op die nommer-een-treffer “As it Was” se hakke met ’n tweede plek.

“Daar word op soveel positiewe maniere op die snit gereageer. Ek het nog nooit so iets beleef nie.

“Ek wil net baie dankie sê aan almal in die VSA wat die liedjie ondersteun het. Dis die eerste keer dat ek ’n top-10-enkelsnit daar gehad het en nou is dit in die top-5.”

Só lui die boodskap wat Bush onlangs op haar webwerf oor dié prestasie gedeel het.

Bronne: Spotify, Apple Music, Official Charts, Billboard

Luister na die liedjie hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lourens CFG ·

Ek het van baie van haar liedjies gehou, hierdie, was beslis nie een van hulle nie.

Nierkie ·

Dis hoe mal die musiek bedryf deesdae is. Geen winkels wat CD’s verkoop, geen CD’s te koop nie, liedjies uit cartoons (Encanto) word No 1 en ou liedjies word weer beroemd. Ek verneem dat daar baie nuwe CD’s elders in die wereld verkoop word, maar dat die statistieke weerhou word, want streaming is mos deesdae die alles. CD’s gaan dalk, vinniger as wat ons gedink het, weer ‘n comeback maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.