‘Kokkedoor’: En toe is daar drie …

Kevin en Nate het die jongste uitdaging gewen. (Foto: verskaf)

Alhoewel kinkelbraaier Ashley en onthoubraaier Bertus se kuier in die Kokkedoor Vuur & Vlam kombuis verby is, keer dié twee mans breëbors en met harte wat bars van trots terug huis toe.

In die jongste aflewering van die reeks het die omgewingskenner, Dave Pepler, ʼn draai langs die braaivure gemaak. Hy beskryf homself as ʼn man met ʼn verskeidenheid van belangstellings, waarvan reukwater een is.

Deur die jare heen het hy een na die ander eksotiese reukwater aangekoop. Hy het selfs ʼn paar van dié bottels saamgebring sodat die braaiers en beoordelaars, Bertus Basson en Kobus Botha, in sy vreugdevolle belangstelling kan deel.

Hierdie geurige begin van die uitdaging het die grondslag vir die braaiers se uitdaging gelê.

“Ons kyk vandag of julle smaak, geur en aroma verstaan,” het Bertus verduidelik.

Die kokkedore moes ʼn sensoriese, vegetariese driegangmaaltyd aan Dave opdra. Die beoordelaars was op soek na ʼn botaniese aanslag, en het van die deelnemers verwag om met vars groente en vrugte vanuit die plaaslike omgewing te werk.

Vir hul voorgereg, moes hulle van knolseldery, ʼn vreemde bestanddeel vir die meeste van die braaiers, gebruikmaak. Hul hoofgereg moes uit ʼn gebalanseerde bord van proteïene, stysel, groente en ʼn sous bestaan.

Hul nageregte is opgedra aan Dave se ma, wat ʼn sjef en bobaas-poedingbakster was. Die beoordelaars was op soek na ʼn malva- of bruinpoeding wat herinner aan ʼn tuisgebakte, heerlike nagereg.

Kobus Botha, Dave Pepler en Bertus Basson. (Foto: verskaf)

Die onthoubraaiers moes veral hul ore spits in dié uitdaging, aangesien hulle die kinkelbraaiers se raad oor mooi borde moes volg.

Die vier spanne, Cindy en Joubert, Kevin en Nate, Gert en Karen, en Ashley en Bertus, moes mekaar verder langs die braaivure leer ken het; dit is immers die finale spanne van die reeks.

Alhoewel Kevin en Nate die enigste deelnemers is wat nog nie vantevore in ʼn span saamgewerk het nie, is dit juis dié span wat die beoordelaars en Dave die meeste beïndruk het.

Hulle is dalk nog nie te vertroud met mekaar in die kombuis nie, maar hulle het beslis gewys wat in hulle steek toe hulle koning tydens vanaand se uitdaging gekraai het.

Uiteindelik was dit Ashley en Bertus wat hul voorskote aan die einde van die dag moes ophang.

“Ek vat meer as die voetspore van Kokkedoor op my hart saam. Ek vat soveel vriendskappe saam – veral Ash sʼn,” het ʼn moedige Bertus aan die einde van die episode gesê.

Ten spyte daarvan dat hulle tyd in die kombuis tot ʼn einde gekom het, is beide Ashley en Bertus dit eens – hulle reis op Kokkedoor Vuur & Vlam het hul lewens verander.

  • Kokkedoor Vuur & Vlam word Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.