kykNET se #JouSondagDrama-fliekreeks skop Sondag af

kykNET se splinternuwe #JouSondagDrama, ʼn reeks van 13 alleenstaande rolprente, is van 20 Januarie op Sondagaande op TV te sien.

Die kanaal se oogmerk met dié projek is om uiteenlopende skrywers, van alle agtergronde en ervaringsvelde, die geleentheid te gee om draaiboeke te skryf, hul bestaande verhoogtekste te verwerk vir dié formaat, of om oorspronklike draaiboeke te skryf.

Verskeie gesoute asook debuutregisseurs is die geleentheid gegee om elkeen ʼn paar flieks se regie te behartig. Kykers kan uitsien na uiteenlopende temas en genres. Die ernstiger dramas (Die dag is bros en Stillenag) word afgewissel met ligter “rom-coms” (Vat ʼn kans) en komedies (Die skandaal).

Deon Meyer se kortverhaal “Bottervisse in die jêm” is onder meer tot ʼn rolprent verwerk en dit maak ook deel uit van die #JouSondagDrama-reeks. Die vervaardigers, Soné Combrinck en Deon Opperman, is ook baie opgewonde oor die skryftalent van Candice Johannes (Draadloos) en Lize Vosloo (Desember).

Die rolverdeling is deurlopende ensemblewerk en sluit in Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Franci Swanepoel, Simon Bruinders, Amalia Uys, Leandie du Randt Bosch, Sharleen Surtie Richards en Armand Aucamp. Daar is ook gebruik gemaak van jonger talent soos die tienjarige Dirk Jacobs en Ian Roelofs.

Op Sondag 20 Januarie skop dié rolprentreeks af met die fliek Desember.

Ná ʼn familievakansie kort jy ʼn vakansie van die familie.

Die Burger-seuns pak by hulle ouers af om as familie saam Kersfees te vier. Soos met alle families is dit nie lank nie, of die klein jakkalsies begin byt en die irritasies begin krap.

Nanette (Henriëtta Gryffenberg) is ʼn liewe skoonma, maar wanneer sy haar skoondogter, Ingrid (Juanita de Villiers), oor haar invitro-behandelings uitvra, loop die spanning hoog. Francois (Jacques Bessenger) vind ʼn swangerskapstoets in die badkamer en dit veroorsaak verwarring aan die Kerstafel.

Dawid (Reynard Slabbert) se paadjie kruis weer met dié van Melissa (Leandie du Randt Bosch), sy hoërskoolliefde, en dit blyk dat ou liefde nooit roes nie.

Die prettige pasgetroudes Liam (Arno Greeff) en Estelle (Mila Guy), ʼn vegan, is smoorverlief en irriteer vir Francois grensloos, terwyl pa Hannes (Louis Minnaar) maar self die Kersboom moes opslaan.

ʼn Familievakansie kan sorg vir baie pret, misverstande en hope chaos. Voeg al dié bestanddele saam en jy kry ʼn eerlike en komiese weerspieëling van hoe ʼn Afrikaanse gesin Kersfees saam vier.

Lizé Vosloo het die draaiboek geskryf en die regie behartig.

Skakel Sondag 20 Januarie om 20:00 in op DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

sonja coetzee ·

Kan nie wag nie baie dankie Kyknet!!!EK en my verloofde like dit soooooooo bbbbaaaiiieeeeeeeeee!!!!!!!!!!!!!!!!Is hoekom ek nie sonder my DSTV nie en Afrikaans maak my super trots,hulle(Karen Meiring kanaalhoof van Kyknet_)kan Flieknet gerus die hele jaar laat wys dit was Desember 1’groot jol gewees om al daai flieks(nuwes en oues)was n treat en Ons Stories het baie kere ons hartsnare geroer en ons laat n traan pik!!sien baie uit na die flieks!!!Van die flieks het ek nog nooit gesien nie maar 1974 en ouer flieks is uit die boeke uit Hans Strydom is n doring!!!

Amelia ·

Dankie julle – ek love love love Kyknet en veral die Afrikaanse flieks – het Desember vasgenaal voor die tv gesit of dit net laat record en dan gekyk – hene ek kan lekker lag – en net so lekker huil – maar dit is nou die beste of jou Sondae af te sluit mee. Goeie nuus. dankie Karen Meiring en die span. En dankie Maroela Media dat julle ons laat weet het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.