Luister: Erns Grundling slaan voet in Frankryk

Erns Grundling in Parys voor die Eiffeltoring. (Foto: Verskaf)

Die afgelope paar weke skuif aanhangers van die gewilde kykNET-reisprogram, Elders, weer elke Maandagaand nader vir aanbieder Erns Grundling se in diepte vertelling van sy jongste besoek aan die Europese land, Frankryk.

Erns en die Elders-span het van einde Maart tot vroeg Mei in dié geliefde land getoer. Die nuwe seisoen gee nie net ’n nadere blik op die winkende Rugbywêreldtoernooi nie, maar Erns gesels ook met Suid-Afrikaners wat in Frankryk woon, insluitend ʼn paar rugbyspelers.

Van die land se mooiste plekke word besoek, insluitend die Via Podiensis Camino-roete, en natuurlik word daar lekker in Frans geëet en gedrink.

“Ons het in Marseille, Frankryk se oudste stad, begin. Hulle is die gasheer op 10 September wanneer die Springbokke hulle eerste wedstryd in vanjaar se toernooi teen Skotland speel,” vertel Erns in Maroela Media se ateljee.

“Ons het die reeks afgesluit op die Via Podiensis Camino-roete in Frankryk, in die bekende dorp, Saint-Jean-Pied-du-Port naby die Pireneë. Dit was ’n spesiale eindbestemming, want ek was laas daar in Mei 2015 toe ek my heel eerste Camino begin het.”

Erns se voete het hom al sedert 2018 se eerste Elders-reeks, ver paaie laat loop – in Suid-Afrika én in die buiteland.

Vier jaar gelede, met die Rugbywêreldbekertoernooi in Japan, het Erns dié land voor die tyd besoek en kykers ’n voorsmakie gegee van die land waar die Springbokke uiteindelik die toernooi op 2 November 2019 gewen het toe hulle Engeland met 32-12 geklop het.

Vanjaar is dit weer tyd vir die Rugbywêreldbekertoernooi wat op 8 September in Stade de France in Saint-Denis, noord van Parys, afskop met die Franse wat teen die All Blacks speel.

Erns en Cheslin Kolbe in Toulon. (Foto: Verskaf)

Vanjaar se reeks verskil van die vorige seisoen van Elders toe Erns en verskeie gaste die Pelgrimstog van Hoop se Tuinroete tussen Uniondale en Mosselbaai gestap het.

“Hoewel ek in vyf episodes van Elders: Frankryk die Via Podiensis Camino-roete stap, en ook in ander episodes die Le Chemin de Nietzsche stap en gedeeltelik die spore van die Franse Hugenote volg, ry ek ook met ’n Toyota-voertuig tussen dorpe en stede.”

Die reeks het ’n sterk leefstylfokus juis omdat die Franse kos en kultuur so baie bied, sê hy. “Ek kuier by verskeie bekende gaste soos Erik le Roux, sjef en TV-aanbieder in Nantes, en Marita van der Vyver, geliefde skrywer in die sprokiesmooi-dorp Sarlat-la-Canéda.”

Kykers kan uitsien na pragtige landskappe, interessante karakters en Elders se kenmerkende naïewe humor, sê Erns.

“Ek hoop die reeks inspireer kykers om self na Frankryk te reis en hierdie wonderlike land te gaan verken.”

Elders: Frankryk is Maandae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit is ook op DStv Catch Up beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Erns Grundling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.