Luister: Koel, kalm Amy nie skaam om vir haarself te lag

Amy Kleinhans-Curd kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Amy Kleinhans-Curd glo nog altyd in selfverryking, om geleenthede aan te gryp en om nie haarself té ernstig op te neem nie.

Dié voormalige Mej. Suid-Afrika en suksesvolle sakevrou meen dat hierdie eienskappe haar juis perfek gemaak het om een van die “real housewives” te wees.

“Almal se eerste vraag aan my is: ‘Nee Amy, hoekom?’ Dan sê ek net ‘hoekom nie?’,” vertel sy met opgewondenheid in die Maroela Media-ateljee oor haar deelname aan Die Real Housewives van die Wynlande.

Amy, tesame met Anita Lloyd, Candice Bester, Karen Schwendtke, Mariska Thorpe en Michelle van Zyl hou kykers weekliks op die punt van hul sitkamerstoele vasgenael, in die jongste aflewering van dié kykNET-werklikheidsreeks.

“Dis soos een groot, nuwe avontuur. Toe ek in 1992 gekroon is, het die medialandskap heeltemal anders gelyk as vandag. Ek het nie eens ʼn e-posadres gehad nie, kan jy dit glo? Nou is ek in ʼn reality show.”

Sy verduidelik dat haar entrepreneuriese nuuskierigheid en avontuurlustige persoonlikheid bygedra het tot haar besluit om aan dié program deel te neem.

“Ek was regtig geskok toe ek genader is om deel van die Housewives te wees. Die feit dat hulle iets in my gesien het, het die aanbod meer aanloklik gemaak. Boonop hou ek daarvan om nuwe dinge te leer.”

Sy gesels oor die impak van die Housewives en oor die feit dat sy nou danksy die program deur die jonger gardes nadergetrek word vir ʼn selfie – iets waaraan sy nog gewoond moet raak.

Amy lag maklik kritiek af. (Foto: Pieter Cloete)

“Dit was altyd die ma’s wat vir hulle tienersdogters sou sê: ‘Kyk, daar’s Amy Kleinhans’. Dan hoor ek net: ‘Wie is dit?’,” skerts sy.

“Toe is ek net nou die dag deur studente in Stellenbosch voorgekeer. Dis heerlik om bietjie relevant te wees vir mense wat my kinders se ouderdomme is.”

Tot dusver sien ons Amy dikwels as die koelkop of vredebewaarder onder haar medehuisvroue, maar moenie dat haar skoonheidskoningin-glimag jou flous nie.

Sy staan haar man al die afgelope drie dekades in die sakebedryf en vertel dat dit hier is waar sy die meeste uitgedaag word.

“Die nommer een ding waarna vroue moet streef, is om finansieel onafhanklik te wees. Ek sal dit altyd aanmoedig.”

Sy glo haar tyd in die raadsale en as Mej. SA het haar goed genoeg gerat vir die onvermydelike kritiek wat met werklikheidsreekse gepaard gaan, inteendeel sy verwelkom dit.

“Gelukkig kan ek vir myself lag. As mens ʼn goeie humorsin het, gee jy minder om wat ander van jou dink. Solank jy jouself geniet,” sê sy met ʼn knipoog.

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.
  • Amy het ook van haar beste lewenswenke met Maroela Media gedeel. Kyk dié video hier: 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.