‘Maak my famous’ eersdaags terug op die kassie

Emo Adams is die aanbieder van kykNET se talentkompetisie, ‘Maak my famous’. (Foto: Verskaf)

kykNET se gewilde talentkompetisie Maak my famous keer binnekort weer terug na die kassie en die deelnemers is slaggereed om kykers regstreeks te vermaak.

Maak my famous het ʼn produksiebreuk van agt weke geneem weens die Covid-19-pandemie. Die tweede seisoen van die reeks is oudergewoonte voor ʼn gehoor by die Roxy Revue Bar in die Grandwest Casino geskiet voordat die landwye afsondering weens die pandemie deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig is.

Met die maatreëls wat as wetgewing voorgeskryf is in gedagte, moes deelnemers en lede van die produksiespan verfilming aan dié talentkompetisie onmiddellik staak en terugkeer na die onderskeie provinsies waarvan hulle afkomstig is.

Die deelnemers is egter nou nie net goed voorberei nie, maar hulle maak ook gereed vir ʼn splinternuwe tydgleuf. Maak my famous sal nou elke Saterdag om 20:00 op kykNET en kykNET & kie uitgesaai word.

Die kykers is nou ook amptelik die beoordelaars. Kykers sal in elke episode die geleentheid kry om regstreeks te stem vir die deelnemer wat volgens hulle huis toe moet gaan. Uitslae sal aan die einde van die program bekend gemaak word.

Die deelnemers sal gelukkig nie heeltemal sonder ʼn gehoor optree nie. Elke mentor kry hul eie ruimte in die Roxy Revue Bar om na die optredes te kyk.

Skakel vanaf Saterdag 8 Augustus om 20:00 in op kykNET, DStv-kanaal 144, en kykNET & kie, DStv- kanaal 145.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.