’n Blik op Mike Bolhuis

mike-bolhuis-kykNet-verskaf

Mike Bolhuis het Maroela Media vertel oor die moeilikste saak wat hy nog moes aanpak. Foto: kykNET

Mike Bolhuis het kort ná sy diensplig in die weermag ʼn onderonsie in ʼn nagklub stopgesit. Die eienaar het hom daarna as ʼn uitsmyter aangestel en so is Mike vinnig bekendgestel aan die onderwêreld van dwelms en steroïdes wat die uitsmytersbedryf deurspek het.

“Ek het vinnig teen die berugte industrie gedraai en verskillende uitsmytersgroepe toegemaak. Ek het die hele wêreld van nagklubs ook hand en tand begin beveg weens die influks van dwelmbedrywighede daarin. Nodeloos om te sê, ek moes ondersoeke hiervoor doen en so het ek net meer versoeke vir speurwerk gekry.”

Mike bedryf al die laaste twintig jaar ʼn spesialis-sekuriteitsdiens met ʼn span private speurders waar hulle enige saak ondersoek – van moord, ekonomiese en seksuele misdrywe en afpersing tot selfs dieremishandeling.

Nou kan Suid-Afrikaners self ʼn kykie kry in die lewe van die private speurder en die sake wat hy en sy span ondersoek. Bolhuis is ʼn nuwe misdaadwerklikheidsreeks wat tans op kykNET vertoon en Maroela Media het met hom hieroor gesels.

“Ek het net een agenda met hierdie reeks en dit is om misdaad te voorkom. Die reeks se doel is om misdaad wat gebeur en kan gebeur, onder die publiek se aandag te bring.

“Woensdagaand se episode wat handel oor dwelmmuile is ʼn voorbeeld hiervan: dit gaan wys wat gebeur, dat dit tans steeds besig is om te gebeur en verduidelik hoe ons dit in hierdie land kan voorkom.”

Bolhuis sê hy en sy span was glad nie betrokke by die redigering van die reeks nie en hy sien die programme soos wat hulle weekliks vertoon word.

Die redigering daarvan is in die hande van die radio- en televisiepersoonlikheid Rian van Heerden gelos, wat ook die vervaardiger van die reeks is.

Hy ken Rian al jare lank en dit is waarom hy en sy organisasie uiteindelik ingestem het om die program te doen. Hy het Rian vertrou om hom en die sake wat hy hanteer, te wys soos wat dit werklik is, sonder ʼn sensasionele lagie of om enige doekies met die werklikheid om te draai.

Mike volg spesifieke stappe wanneer hy ʼn saak aanpak. Deeglik, netjies en stap-vir-stap. Hy sê onomwonde waarvoor hy staan en waarteen hy staan en met watter soort speurders hy wil saamwerk.

Mike erken hy is baie streng as dit by sy span kom. Almal is hoogs opgeleide en gekwalifiseerde speurders wat as ʼn spesialiseenheid op hul eie kan optree.

Die naam Mike Bolhuis, met sy kenmerkende styl, is natuurlik ook al eintlik ʼn soort legende in die teenmisdaadwêreld. Noem jy sy naam, is jy byna seker daarvan iemand gaan iemand ken wat ʼn storie oor Mike het.

“Ek het nie ʼn probleem met mense wat nie van my hou nie. Kyk, ek hou self nie baie van mense nie, en verkies om alleen te wees. Maar ek het wel ʼn probleem met mense wat ʼn opinie oor jou vorm sonder dat hulle jou ken en dit dan aan die wêreld uitbasuin.

“Baie mense wou al ʼn reeks oor my werk maak, maar ek het nog elke keer nee gesê as hulle vir my sê die programme gaan verwerk word en daar sal van my en my span verwag word om akteur voor die kameras te speel.”

Hy reken die reeks gaan mense die geleentheid gee om te sien wie hy is en wat hy werklik doen. Vir hom gaan dit eintlik net oor misdaadvoorkoming.

Op ʼn vraag oor sy moeilikste saak wat hy al ondersoek het, antwoord Mike dat al sy sake eintlik maar uitdagend is.

“Dit kom daarvan as ʼn mens se organisasie die laaste plek is waar mense vir hulp kom aanklop nadat die ergste reeds gebeur het.

“Ek moet vir jou sê, terugskouend is iets soos die Delmas-moord vir my erg. Die saak oor die babatjie wat so verwurg is en net onder die bed ingeskop is, was sekerlik die uitdagendste saak wat ek en my span nóg moes ondersoek en die moordenaar is steeds op vrye voet.”

Mike vermoed die moordenaar skuil dalk iewers in Mosambiek, of ʼn boendoehof het hom tereggestel.

En spook sy sake ooit by hom?

“Nee, as ek uit my kantoor stap, is my gedagtes skoon. As ek in my tuin stap of werk, oefen of saam met my gesin is, dink ek nie aan my sake nie. Ek het daardie vermoë om af te sluit en dit is soos ʼn deur wat ek kan oop- en toemaak. Ek is nie emosioneel as dit by my sake kom nie, die Here het my geseën hiermee.”

Tog, as daar een soort saak is wat vir hom moeilik is om te hanteer, is dit sake waarby dieremishandeling betrokke is.

“Ek het ʼn eenheid wat dié soort sake hanteer. Ek kan nie eens ʼn televisieprogram oor renosterstropery of ʼn ernstige natuurprogram waar diere mishandel word, kyk nie. Ek sit dit eenvoudig net af. Dit frustreer my, pla my en sal my gedagtes oorspoel en ʼn vorm van ʼn spook wees.”

Die reeks se tweede episode het juis na wrede hondegevegte gekyk. Dit is ʼn soort donker onderwêreld waar min wetsgehoorsame burgers hulle begewe.

“Ek moet vir jou sê die beeldmateriaal wat in dié episode vertoon is, was van die minder gewelddadige materiaal waarmee ons al te make gekry het.”

Mike glo dié misdaadwerklikheidsreeks kan help om die boodskap uit te dra dat alhoewel Suid-Afrika gebuk gaan onder van die ernstigste geweldmisdaad in die wêreld, is daar mense wat dit wil bekamp en kan iets gedoen word om dit hok te slaan.

“My hoop is dat mense uit hierdie program sal leer om nie betrokke te raak by misdaad nie en, tweedens, betrokke sal raak om misdaad te voorkom.”

  • Maroela Media het by Mike Bolhuis op sy kleinhoewe in die noorde van Pretoria gaan kuier. Luister ook na die podsending boaan hierdie artikel om te hoor hoe Mike sy loopbaan as private speurder en van sy uitdagendste ondersoeke met Esté Meyer Jansen bespreek. Hy vertel ook hoe hy voel oor sy reputasie en hy antwoord die vraag of sy sake ooit by hom spook.
  • Maroela Media het die private speurder Mike Bolhuis gevra wat die boodskap is wat hy hoop mense neem uit die nuwe televisiereeks Bolhuis wat handel oor die sake wat hy en sy span speurders ondersoek. Die reeks vertoon tans op kykNET-kanaal 144 op Woensdagaande om 20:00. Kyk die video om te hoor wat hy hierop antwoord: 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

sonja coetzee ·

MIKE,IS N UITSTEKENDE SPEURDER EK SAL NIE IN SY VERKERDE KANT WIL KOM NIE.IS MAL OOR DIE PROGRAM EN HY VAT GLAD NIE NONSENS NIE!!!EINTLIK IS SOOS DIE WERELD DAAR BUITE IS ONS WAT NIE KENNIS HET VAN DIE GEBEURE NIE IS DIT FLIPPEN INTERSANT!!!!WELL DONE MIKE BOLHUIS EN SY PUIK SPAN!!!!!!!!!!!!

TP ·

Ek het die voorreg gehad om so paar keer met Mike saam te werk. Wat ‘n ongelooflike mens! As ek ‘n TV gehad het, sou dit nou die een program wees wat ek graag sou wou kyk. Het enige iemand dalk ‘n idee waar ek dit andersins kan kyk (as op TV)?

Carl ·

Ek onthou hom as die “Spietcop” met die dik skaapvel sitplek op sy motorfiets, saam met `n Inspekteur Bantjies wat soms diens gedoen het in die SAP Brooklyn wyk in die vroee 80`s.

….of was dit nog `n “bolhuis”?

Lukie Carelsen ·

Hoekom probeer Mike soos ‘n cowboy lyk met twee rollies in sy broek ewe braaf en uitlokkend?
Hy lyk eintlik belaglik arrogant en soos ‘n wannabee 007!
So anders as ‘n werklike speurder van formaat soos wyle Piet Byleveld wie se suksesse boekdele gespreek het. Nie sy groot bek en hoogmoedige grootpratery nie!
Watter sake het Mike opgelos?
Joost vd Westhuizen, die Waterkloof 4, Cezanne Visser, ens?
Kan Bolhuis ook bevestig of hy ‘n kriminele rekord het of nie?
Laastens, Bolhuis moet asb ophou vertel dat hy ‘n christen is met so vuil bek!
Practise what you preach Bolhuis!

E.K. aan anti-Bolhuis mense ·

So waar wat hy sê dat mense wat hom nie werklik ken nie hul monde oor hom moet uitspoel nie. Dink julle regtig hy kan bekostig om ‘n hele besigheid te hê en onderhou as hy geen sake oplos nie? Dan sal niemand hom/sy firma huur nie. As ‘n “vuilbek” sy enigste sonde is is dit meer aanvaarbaar as die wat hom oordeel – wat ook ‘n grroot sonde is.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Lukie

kykNet het laat weet dat daar van ‘Bolhuis’ se derde episode, wat op Woensdag 24 Oktober uitgesaai word, ʼn klankbaan sonder kru taal beskikbaar sal wees. Kykers kan hulle afstandbeheer gebruik om ʼn opsie te kies om dié weergawe te kyk.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Christel ·

Ek is mal oor die program en Bolhuis. Dis baie interessant en goed ge”produce!! Well done RVH…
Vir al die Anti-Bolhuis mense, ten minste probeer hierdie man ‘n verskil maak! wat doen jy?

WILLIE ·

Mike Bolhuis doen blykbaar baie goed as “speurder” MAAR die reeks op Kyknet bevat krutaal wat nie aanvaarbaar is nie. Die redaksie behoort dit aan te spreek.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Willie

kykNet het laat weet dat daar van ‘Bolhuis’ se derde episode, wat op Woensdag 24 Oktober uitgesaai word, ʼn klankbaan sonder kru taal beskikbaar sal wees. Kykers kan hulle afstandbeheer gebruik om ʼn opsie te kies om dié weergawe te kyk.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Dellie ·

Wel net die blote feit dat hy vir diere regte baklei maak hom nommer 1 in my boeke!!!!

Wens meer mense was so passievol oor diere regte!!!!

Go Mike…….

Justus ·

Mike Bolhuis klink nogal n yster te wees en dit klink asof hy weet wat hy doen. Sy houdingtjie en tough man talk kan mens seker n bietjie irriteer, maar hy moet ook darem die beeld uitdra van n man wat vasberade is en n saak sal deurvoer tot die einde sonder om nonsens te vat. Die enigste werklike vraag wat ek het is om sy werklike suksesse te deel. Ek stem saam met die ou hierbo dat die sake wat die algemene publiek van weet hy hanteer het, nie werklik lyk of dit suksesvol afgesluit is nie…soos joost, ens. Ek glo egter wel daar is baie waar hy wel suksesvol was!

Respek ·

Ek persoonlik dink Mike Bolhuis is arrogant wat dink hyself is verhewe bo alles en almal. Hy hou vol hy duld nie misdaad teen vroue en kinders nie. Wel as ek hom en sy span so luister klink dit nie hy of enige man daar rond het enige respek vir vrouens nie. Dis n geskreeu en vieslike taal vandat hulle hulle monde oopmaak totdat dit weer toegaan. Ek sal daai manier van praat oor of voor my geensins duld nie. Hulle skep die indruk dit is hoe daar met vrouens gepraat moet word. Uiters SWAK voorbeelde! Julle monde kort seep soda!

honourable member ·

Mike jou program Woensdae aande is puik. Ons kort meer mense soos jy om hierdie crime in hierdie land op te los. Mal oor jou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.