Naels kom uit in ‘OME!’

(Foto: skermgreep)

Met enkele afsprake, dae en vroue oor loop emosies maar hoog in die Oos-Vrystaat.

In die jongste aflewering van kykNET se maatsoekreeks, Op my eish!, was Brendan se aandag nie op wie volgende huis toe gestuur word nie, maar om die vyf oorblywende vroue nog beter te leer ken.

Vir Janae, Katja, Rachelle, Jonelle en Chaunte raak dit ook al hoe moeiliker om hul ware gevoelens weg te steek, aangesien daar reeds sterk gevoelens vir Brendan by van die vroue heers. Een van die grootste kwelpunte wat in die jongste episode opgeduik het, was Janae se planne om op die seiljagte te gaan werk.

Die feit dat Janae nog nie self vir Brendan van dié planne vertel het nie, het Chaunte aangemoedig om dit eers aan Jo, en toe later Brendan, te verklap. Janae was ontsteld toe sy hoor dat Chaunte hul vertrouensverhouding geskend het, en het die geleentheid aangegryp om die kwessie self met Brendan deur te trap. Hy het Janae se hart ten volle verstaan, en kon nie help om self te wonder oor Chaunte se bedoelings met die geheime wat sy so een na die ander aan hom verklap.

Die episode het afgeskop met die vyf vroue wat aan ʼn vasvrakompetisie oor Brendan moes deelneem. Hoewel elkeen van die vroue nie te vrot gevaar het nie, was dit Rachelle wat koning gekraai het met haar kennis van Brendan. Brendan moes natuurlik ook self ʼn paar vrae oor elkeen van die vroue beantwoord, en het telkens vasgeval in die kleiner besonderhede oor van die vroue.

Ná die speletjie het Brendan en sy vyf oorblywende vroue saam in ʼn borrelbad gesit, hoewel dit nie ʼn gemaklike situasie vir ʼn paar van hulle was nie.

“Ek weet nie wie nie, maar iemand het beslis met my voetjie-voetjie gespeel,” het Katja later geskerts, terwyl Jonelle glad nie gemaklik met die nabyheid van die ander meisies was nie.

Dit het Brendan nie lank gevat voordat hy Rachelle op ʼn alleenafspraak genooi het nie. Sy was al te verlig, aangesien sy reeds in verlede week se episode gesê het dat sy graag tyd saam met Brendan wil deurbring, maar nooit die geleentheid kry om dit te doen nie.

Sy het sommer haar kop op sy skouer laat rus en haar verligting om weer alleen by Brendan te wees uitgespreek.

“Jy moenie heeltyd voel dat jy moet kompeteer nie, ek sien jou,” het Brendan vir Rachelle tydens die afspraak gesê. Hy het sommer van die geleentheid gebruik gemaak om nog ʼn soen op haar lippe te plant.

Een ding wat hy graag by haar wil tuisbring, het hy later in sy dagboeksessie erken, is dat sy nie elke situasie moet oordink nie, en dat hy dit geniet om haar by hom te hê.

(Foto: verskaf)

“Ek weet nie wat dit is nie, maar elke keer as ek en Brendan tyd saam spandeer is dit asof ons net mekaar verstaan,” het Rachelle ná hul alleenafspraak gesê.

Ná hul afspraak het elkeen van die ander meisies ook die geleentheid gehad om ʼn paar minute alleen saam met Brendan deur te bring. Jonelle het eerste ingestap, en anders as Rachelle, het sy op die punt van die bank, ver weg van Brendan gaan sit.

Sy het later self erken dat sy nog nie gemaklik met die idee is om fisiek met Brendan te raak nie, en dat sy al seer gekry het in ʼn vorige verhouding. Dit is vir haar belangrik om haarself te beskerm teen enige situasies wat dalk weer haar hart kan breek.

Aan die ander kant wag Brendan geduldig vir ʼn teken van Jonelle om haar belangstelling in ʼn moontlike verhouding te wys, hoewel sy dit nie tydens dié alleenafspraak gegee het nie.

Katja, oor wie Brendan nie uitgepraat kan raak nie, het ná Jonelle by hom aangesluit. Die gesprek het gemaklik gevloei, en die twee het nie lank gewag voordat hulle ook “padkos”, wat hul kodewoord vir soen is, gedeel het nie.

“Ek is op die punt waar ek die risiko sal vat om uit te stap met ʼn gebroke hart, as wat ek huis toe gaan en weet dat ek my kans gemis het,” het Katja tydens haar dagboeksessie gesê.

Chaunte se koms het nie net met ʼn paar vriendelike glimlagte gepaard gegaan nie, trouens het sy nie geskroom om oop kaarte met Brendan te speel nie. Hoewel sy nie Janae se naam genoem het nie, het sy wel aan Brendan verklap dat daar iemand in die groep is wat nie eerlik is met hom nie. Dit het hom natuurlik aangespoor om Janae hieroor te vra tydens hul eie alleensessie.

Brendan het later erken dat hoewel hy haar gevra het, het hy nie eintlik verwag dat dit Janae sou wees wat reeds planne gemaak het om die volgende jaar oorsee te gaan werk nie. Sy het haarself egter verdedig deur te sê dat sy dié planne reeds lank voordat sy vir Op my eish! ingeskryf het gemaak het, en “dat niks in yster gegiet is nie”.

Sy het ook erken dat sou daar ʼn verhouding tussen haar en Brendan blom, sy dit sterk sou oorweeg om in Suid-Afrika te bly. Dié twee het die afspraak afgesluit met ʼn soen, en hoewel hulle die kwessie uitgepraat het, het Chaunte in haar dagboeksessie gesê dat sy bly is dat sy eerlik met Brendan was.

“Sy het gedink sy is tien treë voor my, maar my tydsberekening is on point,” het Chaunte in ʼn dagboeksessie gesê.

“Dis altyd Chaunte wat vir my hierdie goedjies aandra,” het Brendan egter in sy eie dagboeksessie gesê.

“Dit is hoe iemand ʼn storie en ʼn stertjie bylas … en dan lyk dit lelik.”

  • Op my eish! word elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DSTV-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.