NatGeo-reeks plaas kollig op SA-megabrug

Daniel Ashville, ‘n Britste aanbieder en entrepreneur, het ‘n brug in die Oos-Kaap gebou. (Foto: National Geographic/Disney/verskaf)

Alhoewel Daniel Ashville die wêreld al platgereis het, is dit Suid-Afrika se gasvrye mense, beeldskone uitsigte en heerlike kos wat uiteindelik sy hart verower het.

Ashville, ʼn Britse entrepreneur, aanbieder en stigter van Ashville Holdings, ʼn konstruksie-onderneming, was in Suid-Afrika om ʼn reuse-brugbouprojek in die Oos-Kaap aan te pak. Ashville het saam met ʼn toegewyde bouspan ʼn brug oor die Msikaba-kloof, naby Lusikisiki, gebou.

Die Msikaba-brug is ʼn staaldekstruktuur met kabelstawe wat deel vorm van die N2 Wildekus-padprojek en sal sowat R1,72 miljard kos om te bou. Die padprojek wil ʼn handelkorridor skep wat langs die kuslyn van die Indiese Oseaan strek en Kaapstad verbind met Gqeberha (Port Elizabeth) en Oos-Londen, tot by Durban in KwaZulu-Natal.

ʼn Episode oor die bouprojek is as deel van National Geographic se dokumentêre reeks, Building impossible with Daniel Ashville, gedokumenteer.

“Dit het oor meer as net konstruksie gegaan. Dit het daaroor gegaan om die infrastruktuur in plek te kry, om plaaslike inwoners op te lei en om twee dele van Suid-Afrika te verbind wat nog nooit vantevore verbind was nie,” het Ashville aan Maroela Media verduidelik.

“Hierdie brug verbind mense in ʼn ekonomiese en sosiale wyse aan mekaar.”

Wanneer Ashville aan sy Suid-Afrikaanse ervaring dink, meen hy dit was een van die beste plekke wat hy nog ooit besoek het en een van die lekkerste lande waar hy nog ooit gewerk het.

Daniel Ashville saam met een van die boukontrakteurs. (Foto: National Geographic/Disney/verskaf)

Wat veral vir hom uitgestaan het, was die hardwerkende geaardhede van die span bouers wat saam met hom aan die brug gebou het.

“Die werkers was daar om hard te werk en die werk goed te doen. ʼn Mens kon sien dat hulle in ʼn emosionele wyse aan die projek verbind was.”

“Daar was ongelooflik baie emosie op die bouterrein. Dit is die eerste keer dat ek deel was van ʼn span wat in sang byeengekom het om hul gemoedere te lig wanneer hulle moeg of moedeloos was.”

Ashville erken dat hy tydens sy Suid-Afrikaanse kuier ʼn hele paar kilogram opgetel het, en dat hy nou uiteindelik weet wat presies ʼn braai is. Dit is juis Suid-Afrika se kleur- en geurryke kos wat sy hart gewen het.

Wanneer hy aan uitdagings dink, sien hy nie die afgeleë gebied waar die brug gebou is of die algemene uitdagings wat Suid-Afrikaners daagliks in die gesig staar in sy geestesoog nie.

Dit was die goggas wat vir hom die grootste kopseer op die bouprojek besorg het.

(Foto: National Geographic/Disney/verskaf)

“Ek het so gejeuk, die insekte wou my net nie in die aande los nie,” het hy geskerts.

Die infrastruktuur wat in plek gestel is om die brug op ʼn effektiewe en produktiewe wyse te laat bou, het Ashville veral beïndruk. Afgeleë al dan nie, die gebied was gebruikersvriendelik, sê hy. Alles wat die bouspan benodig het, was tot hul beskikking.

Die Msikaba-brug is maar die eerste van ses reuse-bouprojekte wat Ashville wêreldwyd vir die reeks aanpak. Hy het onder meer in Finland, Oostenryk en Italië vir dié reeks gaan draai.

  • Building Impossible with Daniel Ashville skop 12 September op National Geographic, DStv-kanaal 181, af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karoo ·

Bly Ashville geniet “The Good Life” van ons Spys en Drank. Kom ons hoop hy is opgewasse vir al die ekstra agteraf geld wat hy gaan moet opdok om sy projek moontlik te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.