Neels van Jaarsveld ‘moeg vir op sy eish wees’

Neels van Jaarsveld. (Foto: kykNET)

As een van die land se bekendste akteurs het Neels van Jaarsveld al vele rolle op die kassie, silwerdoek en verhoog vertolk.

Dié gesoute Kaapse akteur is egter in die nuwe kykNET-werklikheidsreeks Op my eish op soek na liefde en is hy van plan om slegs een karakter, homself, te wees. Hy sal vir 13 weke lank na sy ideale pasmaat soek – ʼn avontuur met ware liefde as die eindbestemming.

“kykNET het my vroeër vanjaar genader met die idee vir die program, maar ek het gedink ek gaan ʼn aanbieder wees,” vertel Van Jaarsveld tydens ʼn aanlyn “blitsafspraak” met Maroela Media.

“Ek het gedink dit is ʼn interessante konsep. Ek het die omstandighede in ag geneem en hou van nuwe mense en het gedink ek moet dit kans gee. kykNET is nog altyd goed vir my en ek vertrou hulle en hulle vervaardigers.”

Enkellopende vroue wat ouer is as 21 kan inskryf om dié hubare akteur ontmoet. Volgens Van Jaarsveld gee dit hom ook die geleentheid om ʼn “menslike eksperiment” uit te voer.

“Ek gaan probeer uitvind waaraan vroue dink in 2021, hoekom hulle vir so ʼn tipe program ingeskryf het en of hulle dit vir die regte redes gedoen het. Hopelik sal ek al hierdie soort vrae kan beantwoord, en ek sien uit na die uitdaging.”

Hoewel hy deur sommige as die nuwe “bachelor” beskryf word, sê hy die program is ʼn splinternuwe konsep wat kykers nog nie gesien het nie en is nie geskoei op ʼn bestaande televisie-resep nie.

Op my eish is ʼn heilsame, opregte Suid-Afrikaanse program. Sommige oorsese maatsoekprogramme is baie onrealisties in die manier hoe dit geskep is met die alewige drama. Ek hou nie van drama en konflik in die regte lewe nie en daar gaan nie baie sensasie wees nie. Dit gaan fokus op die menslikheid van my en die deelnemers, eerder as op gefabriseerde konsepte en drama,” sê Van Jaarsveld.

Sy ideale pasmaat pas nie noodwendig in ʼn sekere boksie nie en voeg hy by dat hy ook nie noodwendig sy ideale pasmaat na gelang van voorkoms bepaal nie.

“Alle mense is mooi op verskeie maniere en almal het iets wat mooi is. Dit is belangrik dat daar aantrekking is, maar dit is belangriker dat sy ʼn goeie mens moet wees met ʼn goeie hart en ʼn sin vir humor wat nie die lewe te ernstig opneem nie. Sy moet kan grappe maak.

Neels van Jaarsveld. (Foto: kykNET)

“Ek geniet my werk as akteur, maar ek mis ʼn spesiale persoon langs my sy – iemand wat die vreugdes en hartseer van die lewe met my kan deel; iemand met wie ek die normale dinge in die lewe kan geniet, wat my kan laat lag en saam met wie ek onthou-oomblikke kan beleef.”

Die program sal hoofsaaklik in die Overberg geskiet word en sal baie van dié omgewing ten toon stel. “Baie van die afsprake en aktiwiteite gaan in die Overberge plaasvind en ons gaan vorendag kom met wonderlike avonture wat ook die kyker kan opvoed oor die Overberg en Botrivier.”

Op my eish sinspeel op die feit dat hy enkellopend is, maar ook op die brandewynadvertensie wat destyds van Van Jaarsveld ʼn ster gemaak het. “Daardie advertensie het my lewe verander en my op die map gesit. Daar het allerhande interessante, positiewe dinge as gevolg van daardie advertensie in my lewe gebeur.”

Hy gee toe dat daar soos met sy akteursrolle geen manier was om vir Op my eish voor te berei nie, behalwe om onder meer seker te maak hy lyk sy beste.

“Dit is met tye oorweldigend en die aandag en kollig wat daarmee gepaard gaan is iets waarvan ek vir ʼn paar jaar weggeskram het. Ek is wel baie opgewonde om te sien watter goeie televisie ons kan skep.

“Om weer onder ʼn vergrootglas bekyk te word, is baie skrikwekkend, maar ek dink dit gaan ʼn goeie avontuur wees solank as wat ons opreg en eerlik bly. Ek speel nie ʼn rol nie – ek is myself en ek is op soek na ʼn vennootskap wat mense kan hoop gee dat ware liefde nog bestaan.”

Inskrywings vir Op my eish is tot 25 Desember oop op kykNET se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.