Nuwe karakters, senutergende raaisels in ‘Die Byl’

Vier karakters wat kykers deur die jare leer ken het, ʼn karakter wat terug is in ʼn poging om vrede met haar verlede te maak en twee nuwe spanlede wat by die eenheid aansluit.

Dít is wat op kykers wag in die langverwagte vyfde seisoen van die immergewilde kykNET-reeks, Die Byl.

Byl (Waldemar Schultz) geniet uiteindelik outonomie oor die eenheid, maar die nuwe lede in die span – en veral die sielkundige wat aangestel is om die span se psigiese welstand te monitor – maak dit nie aldag maklik nie.

Daar is ook ʼn paar reeksmoordenaars wat Byl en sy span tot die uiterste toets en een wat hulle telkens ontglip en al meer met makabere dade tart.

Byl se steunpilare, Juan (Marvin-Lee Beukes), Nicki (Milan Murray) en Lena (Lika Berning), is steeds daar, maar die sluipskutter Jo Verwey (Amalia Uys) konsulteer nou as wapendeskundige en help Byl en sy span waar sy kan.

Kaptein William Miller is die nuwe profielontleder wat in Lena se plek aangestel word – stil en aantreklik, maar ongeërg oor sy voorkoms. Hy is uiters bekwaam en kan die sjarme aandraai wanneer dit nodig is, maar hy dra swaar aan ʼn deel van sy verlede.

William kom uit ʼn ryk familie en sy pa, ʼn psigiater, het gehoop hy gaan in sy voetspore volg. Hy het egter forensiese profielontleding gekies en verder in Ierland studeer. Daar het hy met ʼn Ierse vrou getrou, maar ná sy haar stryd teen depressie verloor het, het William na Suid-Afrika teruggekeer. Hy nader Byl wat dadelik sy potensiaal raaksien en hom in Lena se plek aanstel.

Tyrone Keogh, wat die rol van William speel, het jonk reeds in die vermaakbedryf begin werk en was in verskeie advertensies te sien voor hy ʼn regisseur van musiekvideo’s en advertensies geword het. Sy pa is die akteur Danny Keogh en sy ma, Debbie, is ʼn filmvervaardiger. Hy is bekend vir rolle in The Wild, Dominion, Black Sails en The Girl from St. Agnes.

Dr. Anton Fourie (Marcel van Heerden) is die nuwe patoloog wat by die span aansluit. Anton is ʼn gesogte spesialis in sy veld. Hy en dr. Fritz het mekaar goed geken, maar was jare lank in kompetisie om te wys wie die beste is. Anton, wat voorheen getroud was en pa van twee is, is ʼn gesoute skaakspeler en waardige opponent vir Byl.

Ander spelers wat gereeld hul verskyning maak, is Ira Blanckenberg as die sielkundige dr. Mia Labuschagne, Jacques Bessenger as die joernalis Alex Kruger, en Anrich Herbst as kaptein Buks Botha.

Aan die produksiekant is hierdie seisoen van Die Byl deur ʼn sterk span bestuur met ʼn groep talentvolle vroue wat die leisels vasgehou het.

Die reeks is deur Elmarie Botha, Berdene Burger, Lorraine Burger, Igna Botha en Tina Kruger geskryf met Elmarie as storiebeplanner en vervaardiger. Berdene is die oorhoofse reeksregisseur, maar Nina Swart en Liezl Spies was ook vir van die episodes in die regisseurstoel.

“Herman Binge en Leon Kruger het ʼn enorme aandeel in die sukses van Die Byl gehad.

“Hulle afsterwe, beide in 2021, het ʼn reuse-leemte gelaat. Dit het die kreatiewe en tegniese spanne gemotiveer om absoluut alles wat hulle het, in die nuwe seisoen te sit. ʼn Mens wil glo dat hulle trots sou wees op wat ons verrig het,” sê Elmarie.

Die Byl begin op Dinsdag 16 Januarie 2024 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.