Ontbytsake verwelkom nuwe aanbieder

Leon Gropp is die nuwe aanbieder by Ontbytsake (Foto: Verskaf)

Die gewilde televisieprogram Ontbytsake het onlangs afskeid geneem van Jan Harm Schutte wat twaalf jaar deel was van hul span.  Die nuwe gesig wat nou op die kassie sal verskyn is die bekroonde sanger en kitaarspeler Leon Gropp.

Schutte verlaat die program omdat hy en sy gesin het na Sydney, Austrailië verhuis waar hy ’n betrekking by Fox Sport aanvaar het.

“Ons ken al vir Leon Gropp sedert die beginjare van CH2 toe hulle gereelde gaste op die program was.  Hy is uiters talentvol as musikant maar het ook ’n spontane persoonlikheid en sin vir humor,” het Melinda Meyer, regisseur van Ontbytsake gesê.

Leon Gropp is al van jongs af versot op musiek en het, vir so lank as wat hy kan onthou, in kore en ander sanggroepe gesing. Hy het egter in matriek vir die eerste keer met die kitaar kennis gemaak en was dadelik verlief.

Die Pretorianer het die professionele wêreld van musiek amptelik betree as deel van ’n mansgroep, Hi-5, wat die land platgetoer het en selfs ’n optrede saam met Nataniël gehad in die Royal Albert Hall in Londen. In 2007 het hy deel geword van die kitaarduo, CH2, wat oor die afgelope tien jaar ’n hele rits toekennings gewen het, waaronder Vonk-, SAMA- en Ghoema-toekennings vir Beste Instrumentele Album, en ook by die grootste feeste in die land opgetree het.

Hy het ’n Woordtroffee vir sy konsep-album “Rooidag”(NP van Wyk Louw getoonset en gesing) ingepalm gedurende 2018, en het onlangs besluit dat dit tyd is om sy solo-sangloopbaan ’n kans te gee en sy eerste solo-enkelsnit, en musiekvideo vir Bakenlig vrygestel.

Gropp sal nou saam met Dawie Roodt en mede-aanbieder Eloise Cupido weekliks bekendes uit die sakewêreld, kunste, sport en politiek, in die ateljee as gaste ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Ek hou nogal van hom. Hy is net homself. Groot aanwins vir Ontbytsake.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.