Oorspronklike Afrikaanse TV-inhoud binnekort te sien

(Foto: verskaf)

Diegene wat altyd op soek is na ʼn bietjie Afrikaanse kykstof kan gerus hul ore spits, want eMedia stel eersdaags ʼn splinternuwe oorspronklike Afrikaanse program, Die Fakulteit, bekend.

Dié program, wat afspeel by ʼn skool aan die Johannesburgse Oosrand, beloof om kykers te boei met ʼn paar humoristiese karakters en storielyne.

Die sangeres en komediant Bibi du Preez vertolk die rol van die waansinnige skoolhoof, dr. Reinette Naudé, terwyl die voormalige Sterstatus-aanbieder Leigh-Anne Fourie die rol van haar vreemde sekretaresse, Annetjie Kitshoff, inneem.

Carl Trautman, Abel Knobel en Zöricke Snyman, wat al drie in die musiekspel Die Kaplyn te siene was, vertolk ook elkeen ʼn onderwyser in die reeks. Molly en Wors se Carien Botha en Getroud met Rugby se Tené Minderon sal ook hul verskyning in die reeks maak.

Die Fakulteit is geïnspireer deur tipiese karakters wat kykers in ʼn tienerfliek sal teëkom – die bleeksiel, die rugbykaptein, die feeks en die sogenaamde pliggie.

Die unieke blik wat die reeks egter op dié karakters plaas, is dat dit nie geskoei is op leerders in die skool nie, maar eerder die onderwysers wat elkeen een van dié tipiese karakters beklee.

“Die resultaat is ʼn komiese mengsel van intrige, kompetisie, lewenslesse en uiteenlopende persoonlikhede wat bots,” sê George van Rooyen, die regisseur van die reeks.

Die reeks is tydens die Desembervakansie in 2023 by Hoërskool Oosterlig in Boksburg geskiet, en het selfs die hulp van sowat 30 kranige leerders by die skool ingespan wat graag meer oor die vermaakbedryf wou leer.

Daar sal ʼn hele paar bekende gesigte hul verskyning deur die loop van die reeks maak, onder wie Jo Black (as homself), Zoé en die musiekgroep Vrede. Ander gaskunstenaars sluit die naelloper Geraldine Pillay-Viret en die aanbieder Carla Mackenzie in.

  • Die Fakulteit begin Sondag 14 April 2024 op eExtra (Openview-kanaal 105 en DStv-kanaal 195) om 19:30. Die reeks sal ook op eMedia se stromingsplatform, evod, beskikbaar wees.

Kyk hier na die lokprent van die reeks:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.