Plaasjapie: ‘Ek het geweet ek word dalk uitgestem’

Nóg ʼn Noubees-lid was vandeesweek nie sy sout werd nie. (Foto: Verskaf)

Daar was dalk nie bloed nie, maar wel baie sweet en ʼn paar trane in vandeesweek se episode van die kykNET-reeks, Plaasjapie.

In die jongste episode moes die stadsjapies ploeg, plant en ʼn ingewikkelde hindernisbaan takel om die “koöperasie kuier” – waartydens ʼn spanlid uitgestem moet word – te vermy.

Die Noubeesspan blyk aan die verloorkant te bly nadat hulle vir ʼn tweede week agtereenvolgens die dag se uitdagings verloor het.

Dié span het in verlede week se episode vir apteker Laurika Stander gegroet en vandeesweek besluit dat spanlid Elton Mostert nie sy sout werd was nie.

Mostert, ʼn bouer en nutsman van Klerksdorp, het aan Maroela Media erken dat hy ʼn voorgevoel gehad het dat sy tyd op die plaas dalk verby was.

“My eerste fout was om voor Esteban en Roché voor te stel dat Dian die trekpas moet kry. Ek dink ek was te deursigtig met my strategie.”

In die jongste episode moes die stadsjapies ploeg, plant en ʼn ingewikkelde hindernisbaan takel. (Foto: Verskaf)

Die 46-jarige glo hy moes ʼn sagter benadering in die kompetisie gevolg het. “Ek het dié speletjie teen 160 km per uur van die begin af aangepak en as ek terugkyk, was dit ʼn fout. Ek dink party mense het ook dalk gedink ek kan ʼn bedreiging vir hulle word as hulle nie vroeg van my ontslae raak nie.”

Mostert sê hy het die plaaslewe beslis geniet en glo hy was danksy sy beroep beter as ander deelnemers gerat om dit te takel. “Jy sou nooit sien dat ek soos ander deelnemers handskoene dra as ons plaaswerk doen nie. Ek is gewoond daaraan om kneusplekke en krapmerke op my hande te hê,” sê hy skertsend.

Al was sy tyd op die plaas kort, het hy deur die ervaring geleer om nie meer in homself te twyfel nie. “Ek is ʼn sportman, so dit pla my nie om houe te vat nie. Dis deel van die spel en dit maak dinge interessant.”

Elton Mostert. (Foto: Verskaf)

Mostert glo sy spanmaat Bean verdien om met die prysgeld weg te stap. “Bean is ʼn baie goeie mens en werk in die vermaaklikheidsbedryf, so die pandemie het hom platgeslaan. Ek glo hy verdien die prysgeld ná die harde houe wat hy die afgelope twee jaar moes trotseer.”

As hy die R1 miljoen in sy eie sak kon steek, sou hy dit in sy onderneming, MK Construction NW, wou terugploeg of in laekostebehuising belê.

“Ek gaan my droom steeds sonder die prysgeld verwesenlik, want ek het deur dié ervaring aan myself bewys ek ís daartoe in staat.”

In Plaasjapie verruil 18 deelnemers hul gemaklike stadsnessies vir ʼn primitiewe plaasbestaan in die Swartland aan die Weskus vir ʼn kans om R1 miljoen te wen.

Deelnemers bestaan uit mans en vroue tussen 24 en 55 jaar oud en die formaat daarvan is ook soortgelyk aan die oorlewingsreeks Survivor.

Plaasjapie word Donderdag om 20:00 op kykNET uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.