‘Projek Dina’ se Chanelle gesels oor uitdagende rolle, lewe in Kalahari

Chanelle de Jager woon die afgelope vyf jaar in die Kalahari. (Foto: Verskaf)

Chanelle de Jager, die blonde krulkop-aktrise wat deesdae die skoene van twee karakters vol staan in kykNET se gewilde speurdrama, Projek Dina, is ʼn veelsydige vrou van vele talente.

Nie net kon sy daarin slaag om op die stel van die derde seisoen van die gewilde dramareeks tussen twee karakters gedaante te verwissel nie, maar is sy ook ʼn kunstenaar wat deesdae op bestellings van kliënte diereskedels kerf en versier.

Chanelle (43) het in 2001 naam gemaak in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf toe sy die rol van die geliefde en lawwe losbol Des du Pont in die M-Net-sepie, Egoli: Plek van Goud, vertolk het.

Sedertdien het sy in verskeie reekse en rolprente verskyn, en in 2020 het sy in die eerste seisoen van Projek Dina verskyn. Chanelle vertolk die rol van beide adjudant-offisier Ronel Oosthuizen en haar suster, Dina.

Chanelle vertel aan Maroela Media sy het sowat vyf jaar gelede na die Noord-Kaap verhuis. Sy en haar man woon en werk in ou geboue op die perseel wat hulle self gerestoureer het.

Chanelle de Jager as Ronel in ‘Projek Dina’. (Foto: kykNET)

“Hier was drie bouvallige geboue wat dateer uit die 1930s wat ons self leefbaar gemaak het. My ateljee is nou waar die ou poskantoor was, en langsaan is die ou slaghuis wat nou ons wasgoedkamer is.

“Hier is gereeld toeriste op die groen belt van die Kalahari en ons ontvang ook gereeld gaste wat hier kom oorslaap,” vertel sy.

Intussen werk sy aan die pasgemaakte diereskedels vir kliënte wat van heinde en verre bestelling by haar plaas.

“Op die oomblik het ek ʼn ellelange waglys, maar ek geniet dit wat ek doen verskriklik baie.”

Volgens Chanelle was dit vir haar ʼn uitdaging om twee rolle in een reeks te vertolk. “Dit was egter iets wat ek met albei hande aangegryp het. Gelukkig het ek ʼn wonderlike span gehad wat my deur die proses gedra het.

“Die honderde bladsye dialoog was ook moeilik om te leer, maar die brein is soos ʼn spier wat geoefen moet word, so my korttermyngeheue het lekker oefening gekry. My deeglike voorbereiding wat die teks betref, het my gehelp om kop op die stel te hou tussen die twee karakters.”

Chanelle se karakters, Ronel en Dina, is ʼn identiese tweeling. Dina is egter deur ʼn mensehandelsindikaat ontvoer toe hulle 12 jaar oud was. Daarom het Ronel haar daarop toegespits om ʼn speurder en adjudant-offisier te word.

“Ronel het nog altyd skuldgevoelens gehad oor haar suster se verdwyning. Hulle ma het haar eintlik gevra om winkel toe te gaan, maar sy wou nie, toe stuur sy vir Dina in haar plek, en dis toe dat Dina verdwyn het.”

Chanelle de Jager en Laudo Liebenberg in ‘n toneel uit ‘Projek Dina’. (Foto: kykNET)

Laudo Liebenberg, Chumani Pan en Kay Smith is ook in die derde seisoen van die reeks te sien.

“Laudo het beslis ʼn goeie energie na die span gebring en het ʼn vlymskerp sin vir humor. Ons het baie lekker gelag op die stel.”

Chanelle sê sy sou vroeër jare verveeld gewees het in die Kalahari, maar sê dit pas haar nou soos ʼn handskoen.

“Nou in my veertigs is ek gereed om die stiller lewe te geniet. Ons is die grootste deel van die tyd by die huis saam met ons elf honde. As jy winkel toe gaan, is jy een van die min mense in die winkel. Dit is ʼn vreedsame lewe saam met my man en die duisende kaktusse in my tuin.”

Chanelle se kunswerke kan hier besigtig en bestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.