‘Real Housewives’ deel hartsake tydens Mauritius-vakansie

Michelle het nie van Mariska se opmerkings gehou nie. (Foto: Verskaf)

Die ses vroue van Die Real Housewives van die Wynlande het elkeen hul sagter kante gewys en kwesbare verhale oor hul kinderjare bespreek in Donderdagaand se episode van dié kykNET werklikheidsreeks.

Amy Kleinhans-Curd, Anita Lloyd, Candice Bester, Karen Schwendtke, Mariska Thorpe en Michelle van Zyl het in die jongste aflewering die Kaapse wynlande vir Mauritius se idilliese strande verruil, en hier is meer as net skemerkelkies gedeel.

Michelle, ʼn estetika-dokter van Somerset-Wes, was die eerste een om haar emosionele sluise oop te maak deur te vertel dat daar volgens haar ʼn duidelike skeiding onder die vroue is.

“Aan die een kant is dit ek, Karen en Anita – ons is so half die ‘probleemkinders’ en die ander drie is die perfekte ‘lieflinge’. Al manier wat die ander drie enigsins gaan weet wat aangaan, is as hulle ons werklik probeer leer ken sonder om ons af te kraak, af te breek of lelike grappies te maak,” het Michelle gesê nadat Mariska opgemerk het dat van die vroue hul “ekstra persoonlikhede” saambring vir die Mauritius-vakansie.

Sy het ook op die vroue se eerste dag in Mauritius alleen saam met Karen op die strand gaan stap en om verskoning vir hul optrede teenoor haar by Gloria Arendz se herehuis-partytjie gevra.

Karen, wat stiller en meer teruggetrokke in Mauritius was, het teenoor Michelle erken dat die voorval by Gloria se huis ʼn effek op haar gehad het.

Hulle het in ʼn vroeër episode by Gloria se herehuis in die Kaap gekuier, waar Karen aanvanklik nie ʼn goeie indruk geskep het nie omdat sy Gloria herhaaldelik in die rede geval het tydens hul gesprekke.

Michelle het vir Karen om verskoning gevra. (Foto: Verskaf)

Candice, ʼn voormalige sanger en bemarkingsbestuurder, het by dié partytjie vir Karen aangesê om vir almal in die geselskap ʼn spreukbeurt te gee. “Jy moet ʼn bietjie leer om nie óór almal te praat nie. Ek weet jy is sterk en verbaal, maar jy moet partykeer ʼn bietjie luister as ons praat.”

Michelle het ook aan die kameras erken dat sy aanvanklik geïntimideerd was deur Karen, maar haar later as ʼn sagte mens wat haar oor ander ontferm, leer ken het.

“Hulle [die ander huisvroue] kies om net die negatief in Karen raak te sien, en dis vir my hartseer.”

Michelle het ook verklap dat sy ʼn podsendingreeks en boek in die pyplyn het.

Mariska, wat ook tans aan ʼn podsendingreeks met ʼn soortgelyke onderwerp as Michelle sʼn werk, het vergelykende opmerkings van die ander huisvroue afgelag.

“Ek is van die opinie you do you and I’ll do better. Ek steur myself nie te veel daaraan nie,” het dié blonde voormalige welvaartbestuurder oor Michelle se reeks gesê.

Mariska het volgens Michelle ook later die aand ʼn demper op die vroue se diep gesprekke rondom hul kinderjare gesit.

Die huisvroue het die wynlande vir Mauritius se strande verruil. (Foto: Verskaf)

Michelle vertel in Donderdagaand se episode dat haar jonger broer as eenjarige verdrink het, en erken ook openlik dat sy dikwels voel asof sy deur die ander vroue uitgeskuif word.

Anita, Amy en Candice het haar probeer gerusstel dat dit nie die geval is nie. Karen meen Michelle is te hard op haarself. “Sy kritiseer haarself, haar lyf. Die heeltyd.”

Daarna het Anita ook hartsake begin deel en vertel dat sy as sewejarige haar ma aan die dood moes afstaan ná ʼn kankerstryd. Haar pa is ʼn jaar daarna weens ʼn hartaanval ook oorlede en sy is deur haar vriendin se ouers ingeneem.

Candice was geskok om te hoor dat Michelle haar jonger broer aan die dood afgestaan het. (Foto: Verskaf)

“Ek huil nie vandag noodwendig nie, maar ek verlang ongelooflik baie na my ma en my pa,” het Anita tydens aandete gesê. Haar man tree binnekort as uitvoerende hoof van die Ko-operatieve Wijnbouwers Vereniging van Zuid-Afrika (KWV) uit.

Candice, ʼn voormalige sanger wat binnekort haar eie restaurant gaan open, het vertel dat haar grootouers Libanees is, en dat haar oupa ook ʼn restaurant gehad het en self ʼn operasanger was.

Karen het vertel dat sy nederige kinderjare gehad het en ook haar jonger sibbe moes help grootmaak.

Amy, wat Mej. SA in 1992 was, het op haar beurt erken dat sy as kind behandeling en rekonstruktiewe chirurgie ondergaan het vir haar bene. “As julle my komplementeer op my bene, besef julle nie hoe diep julle aan my hart raak nie, want dit sal altyd een van my onsekerhede wees.”

Anita was toe nie so suksesvol met staanroei nie. (Foto: Verskaf)

“Dis lekker om almal so te leer ken en te verstaan. Hoekom jy is soos jy is, en hoekom jy optree soos wat jy doen. Dit was so mooi,” het Candice oor die gesprekke gesê.

Mariska het egter net gesê dat sy as kind ʼn plattelandse meisie was en het aan die kameras gesê dat sy nie die behoefte het om kwesbaar voor die vroue te wees nie.

“Almal het ʼn hartseer storie, maar ek voel dit moet nooit verskoon hoe jy ander mense behandel nie,” het Mariska aan tafel gesê nadat almal hul verhale gedeel het.

“Dit vat guts vir mense om hartsake te deel. Ek het half gevoel dat Mariska se aanmerkings op Karen, Anita en myself gerig was. Dit is ironies dat sy sê dat ʼn mens nie jou trauma as verskoning moet gebruik vir jou optrede nie, maar sy doen presies dieselfde deur die heeltyd na die boksies te verwys waarin mense haar plaas,” het Michelle teruggekap.

Donderdagaand se episode het ook vir ʼn paar lekker lagoomblikke gesorg toe Anita, Amy en Candice op Mariska se aanbeveling staanroei probeer het.

Anita, wat aanvanklik die water met selfvertroue aangepak het, is deur “seestrome” van die groep af weggelei en het die nabye sekuriteitsbootjie om hulp gevra.

Sy is later deur die boot terug na die strand geneem.

“Staanroei is veronderstel om ʼn kalm en rustige ervaring te wees, maar Anita het nou weer die hele show gesteel,” het Mariska gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

daarsdit ·

Hierdie programme is so simpel. Regte huisvrouens kan nie vakansies neem nie, hulle was wasgoed, maak skoon en wonder waar more se brood vandaan kom terwyl almal om hulle kerm.
Hierdie program maak mens siek.

Elma ·

As mens die inwoners van Stellenbosch vra “wat kort Stellenbosch”? sal die antwoord wees – “meer parkering”. Nee, Candice dink Stellenbosch kort NOG n restaurant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.