Resensie: Besondere dokkie-reeks ondersoek SA raaisels, geheime

Wouter Botes, aanbieder van ‘Doodloopspore’. (Foto: Verskaf)

DOODLOOPSPORE: DIE ONVERKLAARDE GEHEIME VAN SUIDELIKE AFRIKA          
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐/10   
Met Wouter Botes
Vervaardiger en regisseur: Wouter Botes
Beperking: Ouerlike toesig
(AfriForumTV)

Hier is nou ʼn besondere reeks wat mense sal laat regopsit. Dit is só boeiend en interessant, jy sal jammer wees dis nie langer nie!

Wouter Botes is ʼn vlieënier, navorser en vervaardiger van formaat. Hy het feitlik alles in hierdie reeks self gedoen, en verklap nooit die geheime nie. Hy laat dit aan die kyker oor om hul eie afleidings en gevolgtrekkings te maak, maar hy verskaf oorgenoeg inligting wat tot stewige debat kan lei, en jou moontlik vir lank kan besig hou met bespiegelings. Of dalk weet jy wat regtig gebeur het?

Wouter, wat lekker persoonlik en gesaghebbend aanbied, begin met die moord op Bubbles Schroëder. Sy was ʼn pragtige jong meisie wat eintlik in 1949 ʼn rolprentster wou word, maar verwurg is. Wie het dit gedoen, en hoekom?

Dan is daar ʼn aangrypende episode oor mense wat in krygsgevangenekampe was tydens die Anglo-Boere-oorlog, en wat naamloos begrawe is. Episode 2 heet “Geheime van die Anglo-Boere-oorlog”.

In die ander episodes word gepraat oor wat moontlik met twee dienspligtiges gebeur het wat in 1980 in die God’s Window-omgewing naby Graskop, Mpumalanga, verdwyn het, en of die Kruger-miljoene werklik bestaan. Dan vra hy: Is daar werklike spoke, en hoe word vreemde geeste en verskynsels verklaar? En wat het gedurende die Krugersdorp-tonnelroof in die laat sewentigs gebeur?

Doodloopspore is op AfriForumTV te sien. Registreer gratis en kyk dan elke Donderdag na ʼn nuwe episode in die reeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.