Resensie: Boeiende reeks oor pynpille ‘klop soos skeelhoofpyn’

PAINKILLER                
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐(8/10)  
Met Matthew Broderick en Taylor Kitsch
Skeppers: Micah Fitzerman-Blue en Noah Harpster
(Netflix)

Daar is geen pynstiller teen Painkiller nie. Hierdie reeks is soos ʼn skeelhoofpyn waarvoor niks help nie, want dit is op ware gebeure gegrond, en die verloop is so weersinwekkend, jy rafel uit.

Richard Sackler se pa het die OxyContin-pynstiller ontwerp, en sy seun voer die sakeonderneming na nuwe hoogtes. Die probleem is dat hierdie tablette verslawend is en erge newe-effekte het.

Die gewetenlose Sackler word gespeel deur Matthew Broderick. Sy spel klop soos ʼn tandpyn in jou kies, so goed en skrikwekkend naby aan die waarheid is dit. Hy koop dokters om en manipuleer hulle met slim bemarking sodat hulle die tablet dikwels onnodig voorskryf en ook sonder om verbruikers te waarsku dat dit hul hul lewens kan kos.

Wanneer mense begin sterf, slaan gesondheidsowerhede toe. Die probleem is dat die reuse-maatskappy so magtig is, nie eers die regering maak ʼn duik in hul wapenrusting nie. Hulle foeter net voort.

West Duchovny in ‘Painkiller’. (Foto: IMDb)

Dit is ʼn volgepakte reeks wat jou vinnig betrek, omdat die slagoffers doodgewone mense is wat in die web van omkopery, gewetenloosheid en gierigheid vasgevang raak. Voor jou oë speel tragedies af wat die gewone Jan en Alleman se lewens vernietig, en dit vir geld. Jy sal later aan emosionele uitputting ly, so verwoestend is dit.

Painkiller bewys net weereens: Bose mense met geld en mag kan lewens vernietig en daarmee wegkom. Jy mag dalk vasgenael maar onthuts na die reeks kyk.

(8/10)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.