Resensie: Guy Ritchie-reeks ‘breek vingers wyl gehore skaterlag’

THE GENTLEMEN       
⭐⭐⭐⭐⭐(5/10)                
Met Theo James en Daniel Ings
Regisseur: Guy Ritchie
(Netflix)

Die groot vraag hierdie naweek vir diegene wat tuisbly, gaan seker wees: “Wat Netflix ons vanaand?”, want Netflix het al deel van die spreektaal geword en is reeds ʼn werkwoord.

As ʼn mens na kykers luister, is die bloeddorstige treffer op die oomblik The Gentlemen en maak nie saak dat resensente dié reeks venynig afkraak nie, dit bly no. 1 op die gewildheidsleer.

Dis komkommerkoel en super-voortvarend. Hoe snaakser die kwinkslae terwyl mense vermoor word, hoe beter vir die kykersyfers, lyk dit. Hoe dan ook anders, want Guy Ritchie het moderne koelkop-fliekgeweld ontwerp, en hy floreer daarmee. Hoe skerper sy sêgoed en vinniger die opeenvolgende geweerskote, hoe meer mense kyk. Weet dus waarvoor jy jou inlaat.

Theo James in ‘The Gentlemen’. (Foto: IMDb)

ʼn Aantreklike man met warm bloed in sy are, gespeel deur die sjarmante Theo James, se pa sterf. Hy erf sy sakeryk, in plaas van sy nikswerd broer Freddy. Dit is maar net die begin van die held, Eddie, se probleme.

Ja, daar is hoogs ontvlambare humor, en, ja, daar word hande en vingers gebreek terwyl gehore skaterlag, maar dit is klaarblyklik wat mense soek. Vir my was dit bedenklik, leeg, langdradig en irriterend, maar vir die meerderheid testosteroon-bulle is The Gentlemen dié reeks van die oomblik met ʼn hoender-toneel wat jou mag laat kekkel van die lag.

(5/10)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.