Resensie: Lekker-kyk-reeks se gebeure soos roulettewiel

 

POKER FACE               
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐(7/10)
Met Natasha Lyonne en Benjamin Bratt
Regisseur: Rian Johnson
(Op M-Net)

Wag ʼn bietjie! Rian Johnson se naam klink dan so bekend. Wie is hy as hy soggens sy tande borsel? Hy is maar net een van die gewildste regisseurs (en skrywers) in die televisiebedryf.

Hy het gesorg dat ons ons gate uit geniet met die moorddramas Knives Out en The Glass Onion. Die outjie weet wat hy doen en met die TV-reeks Poker Face sit hy weer sy vermaaklikheidsgesig op.

Dié slag neem hy ons na die hart van ʼn dobbelpaleis en vra: Hét ʼn casino ʼn hart? Daar gebeur gruwelike ongerymdhede waarvan diegene wat jubel wanneer die munte in bakkies klingel, nooit van kon droom nie, en dis waaroor hierdie glansryke, verleidelike en taamlik boeiende drama handel.

ʼn Kamermeisie ontdek iets skokkend in ʼn hotel se rykste, magtigste dobbelkliënt se kamer en stel bestuur dadelik in kennis. Soos verwag word, tuimel al die domino- en dobbelsteentjies inmekaar, wanneer korrupsie, omkopery en skelmstreke die botoon voer. Boonop kan niemand vertrou word nie.

Dis gemaklike lekker-kyk-televisievermaak waar jy nie eintlik hoef te dink nie, en waar gebeure maar net soos ʼn draaiende roulettewiel telkens op ʼn boerpotnommer val.

Liggewig, verrassend en dikwels dramaties. Kyk gerus.

(7/10)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.